Die DA in die Mangaung-metro het Maandag sy burgermeesterskandidaat vir Mangaung aangekondig.
Die DA in die Mangaung-metro het Maandag sy burgermeesterskandidaat vir Mangaung aangekondig.

BLOEMFONTEIN – ‘n Gebore Bloemfonteiner is as die DA se kandidaat as burgemeester van die Mangaung-metro aangewys.

Tydens ‘n kort geselligheid op Maandag 9 Februarie is aangekondig dat Werner Pretorius sy burgemeesterskandidaat vir die Mangaung-metro in die komende munisipale verkiesings sal wees.

Die nasionale verkiesings wat na alle waarskynlikheid later vanjaar gehou sal word, sal ‘n bepalende faktor wees in die toekoms van die metro wat die afgelope drie dekades deur die ANC regeer word.

Die DA se geselligheid is aangebied in The Edge-resaurant bo-op Naval Hill wat al vir jare leeg staan. Roy Jankielsohn, leier van die DA in die Vrystaat, het in sy openingsrede gesê dit is gepas om die geleentheid daar te hou in nog een van die ANC-regerende metro se ‘wit olifante’.

Op die geselligheid van die DA waar dié party se burgemeesterskandidaat aangekondig is, is van links Roy Jankielsohn (DA-leier in die Vrystaat), Karabo Khakhau (DA se nasionale woordvoerder), Jafta Mokoena (DA-wetgewerlid) en Werner Pretorius (DA-burgemeesterskandidaat vir Mangaung). FOTO: Verskaf
Op die geselligheid van die DA waar dié party se burgemeesterskandidaat aangekondig is, is van links Roy Jankielsohn (DA-leier in die Vrystaat), Karabo Khakhau (DA se nasionale woordvoerder), Jafta Mokoena (DA-wetgewerlid) en Werner Pretorius (DA-burgemeesterskandidaat vir Mangaung). FOTO: Verskaf

Karabo Khakhau, nasionale woordvoerder van die DA, het die aankondig gemaak.

“Om Mangaung reg te ruk, is hy nie net iemand wat Mangaung verstaan nie, maar iemand wat regtig omgee vir Mangaung. Hy het die kapasiteit om Mangaung om te keer. Om seker te maak dat wanneer jy jou kraan oopdraai, daar water uitkom. Dat as jy jou lig aanskakel, ongeag of jy jou krag by Eskom of by Centlec koop, dat krag beskikbaar is,” het Khakhau gesê.

“Dit is belangrik dat gemeenskappe skoon en veilig is.”

Sy sê Pretorius verstaan nie net plaaslike regering nie, maar hy gee om vir die gemeenskap.

“Hy weet wat die inwoners van Mangaung nodig het en hy is reg om die aflosstokkie oor te neem by die huidige burgemeester wie se begrafnis polities gesproke binnekort gehou sal word.”

Sy sê die huidige Mangaung-burgemeester se oplossing op mense wat blyplek benodig, is om hulle te neem na ‘n plek waar daar geen dienste bestaan nie. Sy het verwys na die metro wat die afgelope week begin het om paaie te bou en dienste uit te brei op die terrein tussen Lourierpark en Bloemdal waar mense volgens ‘n hooggeregshof-uitspraak van 2024 nie mag huise bou nie.

Pretorius is sedert 2008 ‘n DA-aktivis en taklid van die DA. Tydens sy studentejare reeds het hy talle leiersposisies beklee waaronder voorsitter van die DA-studente-organisasie en tesourier van die studenteraad in 2010. In 2021 is hy aangestel as proporsionele raadslid vir die DA in die Mangaung-metro en daarna as wyksraadslid. Sedert 2024 dien hy as ‘n DA-verteenwoordiger in die Vrystaatse wetgewer.

Hy het twee regsgrade en ook ‘n magistergraad in sake-administrasie (MBA).

Pretorius sê hy is baie lief vir sy stad. “Ons is lief vir ons stad, maar kan ons trots wees op ons stad? Veral as ‘n mens kyk na die verwaarlosing en die wanbestuur onder die huidige bestuur. Ek is hier vir my liefde en passie vir Mangaung. Die Mangaung-metro kan werk en die DA het ‘n plan om dit te laat werk vir al sy inwoners.”

Hy is ‘n gebore Bloemfonteiner. “Hierdie stad en sy mense het my gemaak en gevorm, en daarvoor is ek baie dankbaar.

Pretorius is ‘n deeltydse lektor by sy alma mater die Universiteit van die Vrystaat en is as prokureur toegelaat deur die Hooggeregshof.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article