As 'n verantwoordelike landbouplatform bevestig NAMPO dat geen gesplete-hoefdiere (beeste, skape, bokke of varke) by NAMPO Oesdag 2026 toegelaat sal word nie weens die verhoogde risiko van bek- en klouseer in Suid-Afrika.
As ‘n verantwoordelike landbouplatform bevestig Nampo dat geen gespletehoefdiere (beeste, skape, bokke of varke) in 2026 op dié skou toegelaat sal word nie. FOTO: Nampo

BOTHAVILLE – Weens die bestaande en groeiende invloed van die uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) in Suid-Afrika, gaan geen diere met gesplete hoewe op 2026 se Nampo-oesdag toegelaat word nie.

Graan SA en die Nampo-bestuur het dié besluit bevestig in ‘n verklaring wat op Vrydag 6 Februarie uitgereik is.

Vanjaar se Nampo-oesdag word van 12 tot 15 Mei op Nampo-park by Bothaville gehou.

Gespletehoefdiere sluit beeste, skape, bokke en varke in – diere wat bekend is daarvoor dat hulle die BKS-virus kan dra en versprei.

Die besluit oor vanjaar se Nampo is eenparig geneem op ‘n vergadering van Nampo, Graan SA en die onderskeie telersgenootskappe, ná deeglike risiko-evaluasie en konsultasie met die toepaslike betrokkenes.

#NAMPO2026 is waar produsente, agribesighede en innoveerders bymekaar kom om te besluit wat volgende is.
Nampo-oesdag is die grootse landbouskou in die suidelike halfrond, waar produsente, agri-ondernemings en vernuwers bymekaarkom om te besluit watter grense volgende in die landbousektor versit sal word. Credit: Nampo

“Bek-en-klouseer het nou letterlik naby aan die huis gekom. As beskermers van biosekuriteit kan ons dit nie waag om ‘n platform te skep waar risiko’s nie effektief beheer kan word nie,” sê Danie Minnaar, voorsitter van die Nampo-oesdagkomitee.

Nie-risiko-diere, soos perde, honde en pluimvee, sal wel toegelaat word – onderhewig aan streng biosekuriteitsmaatreëls.

LEES OOK: Hoë voorkoms van bek-en-klouseer ‘n ‘ongekende krisis’ in Suid-Afrika

Alle diere en voertuie wat betrokke is by dierverwante aktiwiteite sal gespuit en ontsmet word. Praktiese biosekuriteitsmaatreëls vir besoekers word ook ondersoek en verder verfyn. Die bestuur bevestig dat bewusmakingsveldtogte oor biosekuriteit dwarsdeur Nampo-oesdag geïntegreer word.

“Nampo neem biosekuriteit uiters ernstig op. Hierdie vroeë besluit stel telersgenootskappe in staat om hul beplanning betyds aan te pas en voorkom groter risiko’s later,” sê Dirk Strydom, besturende direkteur van Nampo.

By Nampo 2026 word idees getoets, oplossings bevraagteken en rigting bepaal.
Op die Nampo-oesdag by Bothaville word idees getoets, oplossings bevraagteken en rigting bepaal. Credit: Nampo

Telersgenootskappe sal steeds hul stalletjies beman en sal aangemoedig word om skeppend en kreatief te wees in hoe hulle rasse se genetiese voordele, prestasiedata en produksiewaarde uitbeeld – selfs sonder die fisieke teenwoordigheid van diere.

Besoekers kan dus uitsien na ‘n nuwe ervaring waar rasse se voordele en prestasies op kreatiewe maniere met tegnologie en slim bemarking uitgebeeld word.

Nampo het bevestig dat, hoewel diere nie fisiek teenwoordig sal wees nie, Nampo 2026 hierdie situasie doelbewus sal gebruik as ‘n opvoedkundige geleentheid om produsente, betrokkenes en die breër publiek bewus te maak van die belangrikheid van biosekuriteit, hoe siektes soos bek-en-klouseer versprei, en watter praktiese stappe produsente kan neem om hul eie bedrywighede te beskerm.

“Verantwoordelike besluitneming beteken soms om moeilike keuses vroeg te maak,” sluit Minnaar af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article