KIMBERLEY – Te danke daaraan dat die boeties van kleins af oor slange ingelig is, kon die sewejarige Benro Jooste sonder twyfel bevestig dat dit ‘n pofadder was wat sy vyfjarige boetie, Francois, gepik het.
Die Jooste-boeties van ‘n plaas ongeveer 15 km buite Postmasburg het dié dag, Saterdag 17 Januarie, soos talle kere vantevore fietsgery.
Op ‘n stadium het Francois van sy fiets afgeklim en op die grasbegroeide middelmannetjie van die grondpad gestap terwyl hy sy fiets in die spoor gestoot het. Hiertydens het hy op die pofadder, verskuil in die gras, getrap wat hom op die skeen van sy regterbeen gepik het.
Ma Janey vertel die seuns het kort daarna met ‘n “geskree” by die huis opgedaag en Benro kon dadelik vertel dat Francois deur ‘n pofadder gepik is.
Hierna het ‘n waas van bedrywighede gevolg om Francois so gou moontlik in die dorp by mediese sorg te kry. Weens beperkte mediese dienste is hulle van bakboord na stuurboord, en het hulle uiteindelik met Rocket Helicopter Emergency Medical Service (Hems) in Kimberley in aanraking gekom.
Pa Danie het saam met Francois in dié toegeruste intensiewesorgeenheid-lugambulans Kimberley toe gevlieg, waar Francois vanaf Mediclinic Gariep na Mediclinic Kimberley se hoësorgeenheid vir kinders oorgeplaas is en waar hy teengif ontvang het.

Janey vertel die wond was eers bloederig en perserig, maar binne ‘n uur nadat hy gepik is, het dit begin swel. Dié volgende dag was sy hele been, tot verby die heup, geswel.
“Dit het gelyk of sy vel kon bars van die klipharde swelling,” sê sy. Oor dae het die swelling begin afneem, en blase het begin vorm.
‘Slangfees op werf’
“Elke jaar is dit slangfees op die werf. Daar gaan nie ‘n jaar verby waar nie ‘n slang op die werf gekry word nie. Net anderdag het ons ‘n geelslang in die huis gekry,” sê Janey.
Bruno, die gesin se DBV-hond, is al drie keer deur ‘n pofadder gepik en waarsku hulle altyd wanneer daar ‘n slang op die werf is.

Ongeag die trauma van Francois wat deur ‘n uiters giftige slang gepik is, is die Joostes verbaas en dankbaar met die liefde en omgee van mense, ook mense wat hulle nie eens ken nie.
“Mense van oral oor die land heen het gebel en gevra wat sy naam is want hulle wil vir hom bid. Ek glo deur en deur die Here se hand is hierin. Die ergste wat kon, het nie gebeur nie.”
Ook is hulle dankbaar vir werkgewers wat medemenslikheid getoon het, dat verblyf vir die hele gesin in Kimberley so goed uitgewerk het, en Benro, in graad 2, met sy skoolwerk kon byhou.
Danie en Janey het beurte gemaak om by Francois in die hospitaal te slaap, terwyl die ander een na Benro en sussie Aisla-Jane, wie amper drie jaar oud is, omgesien het.
Francois is Maandag 26 Januarie ontslaan, en ‘n tydperk van rehabilitasie waartydens hy nie op sy voet mag trap nie, lê voor. Die blase is voor sy ontslag deur mediese personeel oopgemaak en verbind. Janey vertel hy wil heeltyd buite toe om na sy hoenders te kyk, waarheen hy dan gedra moet word. In die huis skuif hy op een boud rond.

Meeste slangbyte deur pofadders
Denise Coetzee, kliënt-ervaringbestuurder by Mediclinic Gariep, vertel dat vyf pasiënte vanaf 10 tot 18 Januarie in die hospitaal opgeneem is met slangbyte, waarvan vier deur pofadders toegedien is. ‘n Vrou van De Aar is opgeneem wat deur ‘n giftige skerpioen gesteek is, asook ‘n persoon wat deur ‘n dassie gebyt is.
Boonop het hospitaalpersoneel in daardie tyd twee slange op die perseel, wat teen ‘n oop veld is, gekry.


Die pasiënte wat deur pofadders gepik is, is van Postmasburg, Hopetown, Ritchie en Orania, terwyl dit vermoedelik ‘n huisslang was wat ‘n tweejarige kind van Kimberley gepik het. Hoewel dié slang nie giftig is nie, het die kind pyn en koors ontwikkel en is vir waarneming en pynbehandeling opgeneem.
Dit is nie seker watter van die enkele giftige skerpioene in die land die vrou van De Aar aan haar enkel gesteek het nie. Sy het in erge respiratoriese stres ingegaan en is ook deur Rocket Hems, wat haar eers geïntubeer het (via die mond ‘n buis in die lugpyp invoer om die lugweg oop te hou), na Mediclinic Gariep vir direkte toelating tot die intensiewesorgeenheid afgevoer. Sy het goed op behandeling reageer, en is ná vyf dae ontslaan, sê Coetzee.
LEES OOK: Buffel karnuffel jagter tot in die hospitaal
Die persoon wat die dassiebyt opgedoen het, was slegs in ongevalle vir pynbehandeling.
Coetzee vertel dat die hospitaal gereeld in die somer pasiënte met slangbyte opneem, maar dit wil tog voorkom asof dit dié somer meer as normaal voorkom.
“Sowat 90% van die slangbyte in ons streek is van pofadders, terwyl die ander 10% kobras is. Mense moet indien moontlik probeer om die slang wat hulle gepik het, te identifiseer aangesien dit met die korrekte behandeling help.
“Mediclinic Gariep is ten volle met die regte teengif vir slangbyte en skerpioensteke ingerig. Ons het genoeg teengif vir slangbyte. Skerpioenteengif is tans baie skaars, maar sal in Februarie weer vrylik beskikbaar wees,” sê sy.
LEES OOK: Langverwagte besoek aan geboorteland word stryd om lewe ná mediese krisis






You must be logged in to post a comment.