Die Weskus-polisie is sedert Dinsdag 27 Januarie druk besig om groepe beskuldigdes te prosesseer wat in verband met koperkabeldiefstal van nagenoeg R3 miljoen en dwelmhandel in Koekenaap en Piketberg in hegtenis geneem is.
Die dwelms se gesamentlike waarde beloop bykans ’n halfmiljoen rand.
Polisiebeamptes van Lutzville het Dinsdagmiddag (27 Januarie) ’n saak van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom geregistreer nadat 25 mense in Koekenaap in hegtenis geneem is vir die onwettige besit van koperkabels ter waarde van sowat R3 miljoen.
Volgens kapt. Tania Helfrich, die distrikswoordvoerder van die Weskus-polisie, het ’n polisiebeampte inligting ontvang oor mense wat koperkabels op ’n vragmotor laai. Met die polisie se aankoms in Piksteelstraat, Koekenaap, is ’n groep buitelandse burgers betrap toe hulle vermoedelik gesteelde kabels op ’n vragmotor laai.
Een man van Indiese afkoms, een Chinese vrou en 23 Chinese mans is tydens die operasie in hegtenis geneem. Die verdagtes word tans formeel aangekla. Die koperkabels was glo bestem om na Port Elizabeth in die Oos-Kaap vervoer te word. Die polisie monitor tans die moontlike beweging van ’n tweede vragmotor wat moontlik by die saak betrokke is.
Helfrich benadruk dat die koperkabels eers positief geïdentifiseer moet word voordat bepaal kan word of die saak na die polisie-eenheid vir georganiseerde misdaad verwys sal word. Lede van omliggende polisiekantore verleen tans bystand aan die Lutzville-polisie. Verdere inligting sal bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is.
Dwelms met ’n geraamde waarde van tussen R330 000 en R470 000 is dieselfde dag in Piketberg ontdek.
Jeremy Smidt (47) is vroeër die dag, omstreeks 04:35, in Petuniastraat in Piketberg vir die onwettige besit van dwelms aangekeer. Volgens Helfrich het die polisie Smidt se voertuig opgemerk, waarop hy probeer het om vir die polisie weg te jaag.
Tydens die jaagtog het hy ’n swartsak by die voertuig se venster uitgegooi. Smidt is aangekeer, en in die sak is 5 990 Mandrax-tablette gevind.

Verdere ondersoeke het omstreeks 12:00 gelei tot die ontdekking van 741 Mandrax-tablette en 820 sakkies tik by Jeffery Frans (39) se woonplek in Suikerkantstraat, Piketberg. Hy is in hegtenis geneem.
Beide het Woensdag 28 Januarie in die Piketberg-landdroshof verskyn op aanklag van handel in dwelms.

Die Darling-polisie het Woensdag 28 Januarie omstreeks 09:00 inligting ontvang oor ’n voertuig wat vermoedelik dwelms vervoer. Die verdagte voertuig is naby Darling op die R315-pad gewaar. Die polisie het die motor voorgekeer, waarop die bestuurder uitgespring en na ’n naburige plaas se kant probeer vlug het.
Die 30-jarige verdagte is egter kort daarna aangekeer en deursoek. Sowat 504 Mandrax-tablette en 19 tikstrooitjies is in sy besit gevind.

Die dwelms se straatwaarde beloop, rofweg geskat, sowat R35 000.
Die verdagte is ook ’n verdagte in ’n saak van poging tot moord wat die Malmesbury-polisie ondersoek.
Hy sal op Donderdag 29 Januarie in die Malmesbury-landdroshof verskyn.






You must be logged in to post a comment.