STELLENBOSCH – Twee verdagtes wat verdink word van die moord op ‘n bejaarde van Strand die afgelope naweek, het vandag (Vrydag 23 Januarie) in die Stellenbosch-landdroshof verskyn.
Volgens kapt. Nathalie Martin, ‘n woordvoerder vir die Stellenbosch-polisie, is die twee mans, Darren Stephanus (38) en Ryan Munnik (20) , op Woensdag 21 Januarie in verband met die 77-jarige Piet de Koker se dood in hegtenis geneem.
De Koker se lyk is Saterdag 17 Januarie in die Onder-Papegaaiberg-begraafplaas gevind waar hy sy seun se graf besoek het. Hy was naby die graf met ‘n steekwond aan sy bolyf gevind.
De Koker en sy gesin het voorheen in Onder-Papegaaiberg gewoon, maar hy het deesdae Strand sy tuiste genoem. Sy dogter, Liezel Vermeulen, woon steeds in die buurt.
LEES OOK: Veiligheid onder die loep na moord in begraafplaas
Vermeulen en haar man het Saterdag na haar pa gaan soek nadat hy nie opgedaag het vir die familie se braai nie. Almal sou Saterdag saam die naweek se rugbywedstryd kyk.
Met hul soektog, het Vermeulen en haar man polisiebeamptes by die plaaslike begraafplaas gesien en nadat hulle ondersoek ingestel het, bevestiging gekry dat haar pa daar vermoor is.
Veiligheid in Onder-Papegaaiberg, veral in en om die begraafplaas, is lank reeds ‘n brandpunt vir inwoners. Volgens André Pelser, die voorsitter van die Stellenbosch-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), kla inwoners gereeld by GPF-vergaderings oor die byna daaglikse rooftogte in die buurt.
Inwoners het reeds in 2023 reeds ‘n versoekskrif aan die Stellenbosch-munisipaliteit gerig oor die stukkende heining van die Papegaaiberg-natuurreservaat, die varkplaas in die reservaat, asook dat mense met honde in die reservaat jag. Die reservaat word deur voetgangers as ‘n deurweg tussen Khayamandi, die dorp en Onder-Papegaaiberg gebruik. By navraag het die munisipaliteit gesê daar is bestaande en voortgesette samewerking met CapeNature, inwoners en rolspelers, wat veiligheid by die reservaat betref.

EikestadNuus het Vrydag na Vermeulen uitgereik oor die arrestasies. Sy was egter nie deur polisie in kennis gestel dat enigeen in verband met haar pa se moord in hegtenis geneem was nie. Vermeulen het wel gesê die arrestasies bring ‘n klein bietjie geluk in ‘n andersins hartseer tyd.
Die twee verdagtes se saak is tot Maandag 2 Februarie uitgestel om inligting te ïn vir hul borgaansoek. Beide bly in aanhouding tot dan.
*Die twee verdagtes Darren Stephanus (38) en Ryan Munnik (20) se name is by hierdie weergawe van die berig gevoeg op Donderdag, 29 Januarie 2026.




You must be logged in to post a comment.