TygerBurger

Voormalige bendelid sê almal moet saamwerk om geweld te stop

Ivan Waldeck (regs) saam met dr. Alan Boesak by die bekendstelling van sy boek, The Gates of Hell.
Ivan Waldeck (regs) saam met dr. Allan Boesak by die bekendstelling van die boek oor sy lewe van bendes en misdaad waaruit hy uiteindelik verlos is. Boesak was ‘n gasspreker by die bekendstelling.

KAAPSTAD – Die Kaapse Vakte is gevul met ‘n “sterwende, verlore generasie” jongmense en as iets nie daadwerklik gedoen word nie, gaan dinge net vererger.

Dit is die waarskuwing van die voormalige bendeleier en gevangene Ivan Waldeck na aanleiding van die bendeoorloë wat tans weer op die Vlakte woed. Die afgelope paar weke is tientalle veral jong mans en kinders doodgeskiet in ‘n vlaag geweld wat byna elke uithoek van Kaapstad raak.

Daadwerklike aksie nodig

Tussen Julie en September verlede jaar is 976 mense in die Kaap vermoor en ten minste 60 is reeds vanjaar dood. Waldeck sê hy is bevrees hierdie trajek sal nie ophou indien daar nie daadwerklik opgetree word nie. “Hulle kan meer polisielede en meer wetstoepassers in ons gemeenskappe instuur, maar dit gaan nie die onderliggende probleme oplos nie. Dit is net ‘n kosmetiese oefening, wat gedoem is om te misluk,” sê Waldeck.

Wat hy voorstel, is “strategiese” projekte wat reeds so vroeg as graad agt in skole van stapel gestuur word. “Dit is gewoonlik die graad waar leerders begin opkyk na die ‘bling’ van bendes. Die glans van bendelede se lewens word vir hulle aantreklik, want hulle kom uit gebroke huise, ouers is afwesig en daar is geen dissipline by die huis nie. Bendes vul maklik die leemte wat afwesige ouers – veral vaders – laat.

Trauma

“Dan is daar die trauma wat kinders, wat in bendegeteisterde gebiede grootword, ervaar. Hulle sien elke dag geweld en sommige sien lyke terwyl hulle op pad skool toe is. Hierdie kinders ontvang nooit trauma-behandeling nie en word groot met daardie geweldadigheid binne-in hulle,” sê Waldeck.

Volgens hom moet alle organisasies, insluitend kerke, nie-regeringsorganisasies, die polisie en die regering saam met gemeenskappe werk. “Almal moet in dieselfde rigting trek. Gemeenskappe weet wie die smokkelaars is, maar hulle vertrou nie die polisie nie en nie-regeringsorganisasies het nie die geld om programme van stapel te stuur wat die jeug kan help nie.

“Baie dwelmhandelaars is natuurlike sakemanne, maar niemand gee hulle die nodige hulp om positief tot die gemeenskap by te dra nie. Ek weet dat baie van hulle nie wil smokkel nie, maar wie gaan hul kinders se skoolgeld betaal? Wie gaan ‘n brood koop? In die tronk word jy vaardighede geleer wat veronderstel is om jou buite te help, maar as jy ‘n misdaadrekord het, word jy weggewys. Wat doen daai ou? Hy gaan terug na sy ou lewe, want niemand gaan hom onderhou nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article