Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Opregte dankbaarheid wys in dit wat jy bereid is om te gee

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Ouma Plaas het die baie mooi gebruik gehad om elke jaar in Desember orals in die dorp vrugtekoeke te versprei.

Hierdie gebruik was nie ligtelik nie, definitief ook nie goedkoop nie, maar doen het sy dit gedoen. Jaar vir jaar.

Sy sou dit reeds hier by September en Oktober bestel sodat dit gereed is vir Desember. Maar ‘n goeie vrugtekoek moet ‘n bietjie staan en trek, het sy geglo. Dit was effens kleiner as ‘n gewone koek.

Ek onthou dit as ‘n keurige, stylvolle pakkie wat ek en Kleinboet moes gaan aflewer. Een vir een. By elke onderwyser in die skool.

Dit was ‘n klein skooltjie; Ouma Plaas het geglo jy gee vir almal. Van die onderwysers by die klein klassies tot by die hoof.

Ons moes dankie-sê-kaartjies met die hand skryf. Dankie sê is iets wat ‘n mens leer.

Sy het gesê ‘n lewe van dankbaarheid moet ook wys in dit wat jy gee. Ná die onderwysers was dit een vir die dominee en sy gesin, die katkisasie-onderwysers – en daarna is ons na die ouetehuis.

Daar is kleiner koekies uitgedeel, maar genoeg dat almal kon kry. Vir wie gee jy nou en vir wie slaan jy oor?

Daarna die mense wat alleen bly in die dorp en Desember alleen gaan wees. Sy het ‘n lysie gehad.

Ons het vir hom van bo af uitgedeel. Of jy nou dit verstaan het of nie, of jy daarvan gehou het of nie.

Ek koester haar mooi hart met hierdie gebaar. Ek onthou die strikke daarom. Bloues vir die mans, rooi of groen vir die vroue.

As Pa aartappels gehad het, moes ons sommer ‘n pakkie bysit.

Ek onthou die dankbaarheid van die mense. Ek onthou die oopmaak van die deur. Die verrassing op die gesig. Die lekker van gee.

Hierdie Twyfelhoekie is my vrugtekoek vir jou, dankie sê vir nog ‘n jaar. Mag jy geseënd wees.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article