Die vernaamde skrywer S.P. Benjamin is aangewys as die 2026-wenner van die gesogte Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs.
Die vernaamde skrywer S.P. Benjamin is aangewys as die 2026-wenner van die gesogte Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs.

‘n Vernuwende stem in die Afrikaanse letterkunde het die land se grootste skrywersbeurs gewen.

S.P. Benjamin, oorspronklik van Kraaifontein in Kaapstad, wat nou in Malmesbury bly, is aangewys as die 2026-wenner van die gesogte Jan Rabie & Marjorie Wallace skrywersbeurs –`n toekenning wat hom in staat stel om sy ambisieuse romanprojek sonder finansiële druk te voltooi.

Die beurs is tot stand gebring deur `n bemaking van wyle Marjorie Wallace om kreatiewe Afrikaanse skryfwerk te bevorder, iets waarvoor Benjamin bekend is.

Sedert die eerste toekenning in 2010, is die Jan Rabie en Marjorie Wallace-skrywersbeurs die grootste beurs in Suid-Afrika vir die bevordering van skeppende skryfwerk.

“Dit dra kragtige getuienis van Jan Rabie en Marjorie Wallace se volgehoue visie om gehalte Afrikaanse kreatiewe werk te ondersteun,” het prof. Robert Balfour, rektor en vise-kanselier van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), met die onlangse aankondiging gesê. “Die universiteit is saam met die skrywers trots op die erkenning en pryse wat talle van die publikasies wat uit hierdie beurs voortgespruit het, reeds ontvang het,”

Bied ruimte aan skrywers

Balfour het sy waardering teenoor die fondsbestuurder en die Jan Rabie en Marjorie Wallace-bestuurskomitee uitgespreek. “Dit stel UWK in staat om gestalte te gee aan Wallace se wens om vir skrywers die nodige tyd en ruimte te skep om te skryf — vry van die bekommernis om ’n inkomste te genereer.”

’n Beurskomitee bestaande uit kundiges in die skrywerswêreld het Benjamin se aansoek eenparig aanbeveel. Die komitee het 31 projekvoorstelle oorweeg en beskryf die gehalte van inskrywings as ‘besonder indrukwekkend in omvang, kwaliteit en opsigtelike talent’.

Volgens die beurskomitee het die voorgestelde temas nuwe wêrelde betree en gewissel van merkwaardige, maar vergete geskiedkundige gebeurtenisse; die fases van vrouwees; spioenasie en satire; tot randfigure soos sekswerkers en gevangenes wat met hulle komplekse verlede worstel. Die kandidate het gewissel van debuutskrywers tot Hertzogpryswenners.

Die komitee het beklemtoon dat die groot aantal sterk inskrywings die stygende behoefte aan ondersteuning vir skrywers bevestig en dat daar potensiaal is vir `n letterkundige renaissance.

Ongewone tema

Benjamin se voorgestelde roman fokus op ’n ongewone, verrassende tema en ontgin op unieke wyse die persoonlike verhoudings tussen mense uit uiteenlopende agtergronde. Hy beskryf homself as ’n onvoorspelbare skrywer wat onderwerpe aanpak wat ander skrywers óf vermy óf met groot versigtigheid benader.

As jy wil lees van seemeeue en die blousee dan is ek seker nie die tipe skrywer vir jou nie … dis nie vir `n Sondag agtermiddag se lees nie.

Tipering gaan hom ook nie aan nie. “Ek hou nie daarvan dat jy in boksies gedruk word nie. Daar word verwys na bruin skrywers, en dit sit nie reg met my nie. Skryf ek net oor ‘bruinwees issues‘, of het ek nie die reg om oor breër kwessies te skryf nie?” het hy in `n gesprek met TygerBurger gesê.

“As jy wil lees van seemeeue en die blousee dan is ek seker nie die tipe skrywer vir jou nie … dis nie vir `n Sondag agtermiddag se lees nie. Daar is baie dinge, nie altyd mooi nie wat in Wes-Kaap gebeur. Mense kry swaar en dis `n wêreld wat verlig moet word,” sê hy.

Benjamin is in 1965 in Kraaifontein gebore. Hy matrikuleer aan Scottsdene Senior Sekondêre Skool waar sy onderwysers hom aagemoedig het om opstelle te skryf. Hier het hy `n liefde vir skryf ontwikkel.

Na skool begin hy om poësie te skryf. Sy gedigte Vers as teken van my dankbaarheid en Want ons hoere is groener weivelde word deur Johann de Lange en Antjie Krog in die versamelbundel Die dye trek die dye aan opgeneem, en sy gedig Vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie, word op skool voorgeskryf.

Algaande spits hy hom egter meer toe op prosa. Twee jaar voor die publikasie van sy debuutroman verower hy met sy kortverhaal, Die jaar toe ons almal mal was, `n eerste prys in die Kagiso-De Jager-Haum-kortverhaalwedstryd.

Debuutroman

Hy grond later sy debuutroman, Die reuk van steenkool, op bogenoemde kortverhaal. Dié roman word in 1997 bekroon met die Sanlam/De Kat-debuutprys, is in 1998 naaswenner van die ATKV-Prosaprys en is in 1998 op die kortlys vir die M-Net-prys. Die titel verwys na die pa se reuk waarmee Lukas hom vereenselwig. Dit behandel grepe uit die lewe van `n alledaagse familie — die Du Toit-gesin in `n kleurlingwoonbuurt voor die beëindiging van apartheid, terwyl geweld hoogty vier in hierdie laaste jare voor demokrasie.

Die nuwe boek, sê hy, gaan oor die komplekse verhouding tussen `n moeder, haar seun en iemand wat uitgenooi word om by die gesin te kom werk —`n boek wat baie intrige beloof. Hy beoog om die boek “oor so jaar of meer te voltooi”.

“Ek is so baie dankaar vir die beurs, ek kan nie vir jou sê hoe baie nie. Daar is `n paar mense vir wie ek wil dankie sê; die rektor van UWK, prof. Robert Balfour vir sy visie en die beurskommitee en beoordeelaars. Dankie dat julle in my glo as `n skrywer, en vir die vertroue wat julle in my stel. Dit beteken baie. En dan is dit ook baie lekker om in dieselfde asem genoem te word as die vorige ontvangers van ‘n beurs, soos Brink en baie ander groot name. Dis `n groot eer.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article