Die verwarring op elkeen se gesig wat by die deur instap, is opmerklik: In watter lang ry moet jy wees om jou spesifieke kwessie aan te roer? Waar is die rye se begin en einde?
Inligting op inligtingsborde is nie meer toepaslik nie, en die elektroniese bord was dalk eens in sinvolle gebruik.
Vertikale blindings uit die 1990s hang uittand voor dowwe ruite, of is met ‘n tou aan diefwering poniestert gemaak.
Kennisgewings en plakkate van gebeure lank reeds verby pryk skeef-skeef en af-oor aan mure.
Maar jy het geweet – van die oomblik verby die sonverbleikte kennisgewingsbord, deur die hek die lisensiekantoor se terrein in, verby gestoffeerde kantoorstoele in wind en weer – dat ‘n sak vol moed en geduld, en ‘n bottel drinkwater en glukose-lekkers, vir die lang wag nodig gaan wees.
Daarsonder gaan jy opnuut jou heiland leer ken.
Te danke aan mede-landsburgers wat saam met jou in dié verdrukking sit – of leun teen ‘n muur, want daar is nie genoeg stoele nie – vind jy wel jou ry en sy agterpunt.
Al wagtende om ‘n bestuurslisensie te hernu (dankie tog dat voertuiglisensies in die meeste gevalle aanlyn hernu kan word) raak jy ‘n speurder en binnenshuise versierder.
Jy probeer die doel van die geselsers bepaal: By elke amptenaar op ‘n stoel is twee tot drie geselsers. Is hulle raadgewers, die geesvangspan, of ruil hulle resepte uit?
Jy vermoed bomenslike vermoëns, want om tussen soveel geselsery deur die ry wagtendes te verkort en deur hul dokumentasie gewerk te kry, is nie enigeen beskore nie.
Jy vermoed egter dat rye drie keer vinniger sal vorder indien daar minder geselsers by die stoele is.
Jy werk uit hoe die wagruimte se uitleg met bykans geen uitgawes kan verbeter, en eenvoudige dog doeltreffende kennisgewingsborde verwarring sal verminder.
Dit wat van die blindings oor is, kan afgehaal word, want dit dien geen doel nie; seep en water sal die dowwe ruite se sake werk; en die afhaal van ou kennisgewings sal ‘n reuse-verskil maak.
Wanneer jy ná ure by die deur uitstap met die nodige afgehandel, is jy dankbaar dat die proses net een maal in vyf jaar deurloop moet word.
Jy hou duim vas dat die soveelste poging om bestuurslisensiehernuwings na een maal in agt jaar te verander, eindelik deur die staat uitgevoer gaan word.




