Noordkaap Bulletin

TWYFELHOEKIE | Leef en beleef só dat elke dag voluit benut word

Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Met die voorbereiding van hierdie week se Twyfelhoekie besef ek dit is die tweede laaste een van die jaar. Met die oordenking van hoe die jaar gevlieg het, besef ek dit is net ‘n paar dae dan is dit die langste dag en die kortste nag van die jaar.

Daarna begin die dae weer korter word en die nagte stelselmatig langer.

Ek besef net weer hoe ‘n voorreg is die gawe van tyd – ure, dae, weke, maande en jare.

‘n Mens weet om tyd tot jou beskikking te hê, is nie vanselfsprekend nie.

In hierdie tyd dat die dae amper weer korter begin word, wonder ek of ons genoeg moeite doen om ons dae goed deur te bring en met dinge wat goed is, vol te maak.

Die dae aan ons elkeen uitgetel, verskil; hoe ons dit deurbring, verskil; en wat ons daarmee doen, verskil.

Tog, namate die seisoene nou draai, besef ek net weer hoe versigtig ons ons dae moet deurbring.

Wat jy met jou dae doen, gaan in ‘n groot mate jou holistiese welstand bepaal.

Aan die einde van hierdie dag moet ons kan antwoord – ja, dit was ‘n goeie dag.

So ook aan die einde van die week en aan die einde van die jaar.

Hierdie jaar is amper verby, en die seisoene vertel ons tyd stap aan, dit gaan by niemand verbygaan nie.

Die probleem kom in dat ons so meegesleur kan word met die eise van die dag en die dinge van ons tyd dat ons die tyd laat verbygaan wat ons het om die dae wat ons het te waardeer.

Daarom is dit wyse raad om te leer om jou dae só te leef dat jy dit ten volle ervaar.

So baie mense vergeet om hul dae te geniet – moenie!

Leef elke dag, ‘n kort dag of ‘n lang dag – leer om jou dae voluit te geniet en te deurleef.

  • Lees nog rubrieke en meningstukke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article