HERMANUS – Die eens gewilde TV-komediant en finansiële raadgewer, Nico Nel, gaan vanaand, Woensdag, 3 Desember sy eerste nag agter tralies deurgebring nadat hy nie daarin geslaag het om gesteelde fondse aan een van sy slagoffers terug te betaal nie.
Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, het bevestig dat Nel nou die sesjaar opgeskorte gevangenisstraf moet uitdien waartoe hy vroeër gevonnis is.
Nel, wat veral bekendheid verwerf het as grapmaker in die destydse televisieprogram Maak-’n-las , is op 3 November deur die plaaslike polisie in hegtenis geneem nadat Anthony Renier hom by die owerhede aangegee het. Die inhegtenisneming het plaasgevind weens Nel se versuim om die finansiële verpligtinge van sy pleitooreenkoms met die Renier-egpaar na te kom.
Op 30 Maart 2024 is Nel in die streekshof van Hermanus aan twee aanklagte van diefstal skuldig bevind. Die hof het aan hom drie jaar gevangenisstraf per aanklag opgelê, wat vir vyf jaar opgekort is, op voorwaarde dat hy geen verdere misdrywe sou pleeg nie.
Die klagtes spruit uit ‘n saak wat al in 2016 by die polisie aanhangig gemaak is, nadat Nel bykans R3 miljoen – bedoel vir beleggings namens Anthony en sy oorlede vrou, Magdalena Renier, van Kleinbaai, verduister het.
‘n Pleit-en-vonnisooreenkoms is ooreengekom waarvolgens Nel aan die egpaar vir twee jaar lank maandeliks R20,000 terugbetaal, asook ‘n eenmalige bedrag van R510,000 voor of op 30 Junie 2025.
Ntabazalila het gesê dat nadat Nel egter versuim het om aan hierdie voorwaardes te voldoen soos ooreengekom, het die staat gevra dat sy opgekorte vonnis van krag moet kom.
Maar die Reniers was nie Nel se enigste slagoffers nie. Hy is in 2019 in Worcester tot drie jaar korrektiewe toesig onder huisarres gevonnis asook ‘n verdere agt jaar tronkstraf, opgekort vir vyf jaar, opgelê, nadat hy meer as R1,8 miljoen by sy 73-jarige suster, Klaradyn Augustus, gesteel het. Hy moes dit namens haar by Old Mutual, waar hy as finansiele raadgewer gewerk het, belê het.
Verder het hy nog ‘n vriend uit R600 000 bedrieg en het hier ‘n terugbetalingsooreenkoms ondergaan, wat die afgelope maande ook tot stilstand gekom het.





