Die Strand-polisie ondersoek ‘n saak van moord nadat ‘n tienerseun Vrydag (11 Julie) die slagoffer van ‘n noodlottige skietvoorval geword het.

Volgens die polisiewoordvoerder adjudant-offisier Nico Beukes het die voorval om 21:45 in die Weltevreden-woonbuurt plaasgevind.

“Die slagoffer en ‘n vriend het op die hoek van Mydrecht- en Libertystraat gestaan toe twee onbekende mans met vuurwapens toeslaan en op hulle losbrand.
Die slagoffer het skietwonde aan albei sy bene opgedoen. Hy is na ‘n plaaslike hospitaal vervoer en het later aan sy wonde beswyk,”het Beukes gesê.

In ‘n poging om met naasbestaandes kontak te maak, het DistrikPos & Helderberg Gazette met die ouers van die slagoffer se vriendin gepraat.

Volgens hulle het die slagoffer vir meer as ‘n jaar by die plaaslike gesin gewoon.

Die vriendin se 49-jarige ma het voorts hul rou uitgespreek ná die voorval wat nie ver van hul huis af gebeur het nie.

“Hy het sigarette by die winkel gaan koop toe die noodlot tref,” het sy aangevoer.

Volgens die ouer sukkel veral haar dogter met die verlies en die harde werklikheid omdat sy ses maande swanger is met die slagoffer se kind.

“Hy was ‘n lieflike mens, wat geen probleme veroorsaak het nie. Hy was altyd gewillig en bereid om te help.”

Geen verdagtes is nog in vebrand met die skietmoord, wat vermoedelik bendeverwant is, in hegtenis geneem nie.

Skakel die polisie by 021 854 9100 of 082 850 9628 met inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article