Op die vooraand van die Kersfees-vakansie het die Nasionale Seereddingsinstituut reeds hul hande vol.
Die NSRI-Kleinmond het in ‘n persverklaring gesê ‘n vrou het hulle Saterdag omstreeks 13:30 gekontak oor haar 51-jarige vriend van Wellington wat in die Palmiet-strandmeer onder die water verdwyn het. Volgens die NSRI-Kleinmond se stasiebevelvoerder, Schalk Boonzaaier, het die vriende hul vermiste vriend uit die oog verloor toe hulle kant toe geswem het.
“ ’n Multi-reddingsaksie is van stapel gestuur waarby NSRI-reddingswemmers, die Overstrand-reddingspan, die polisie, die Wes-Kaapse EMS-gesondheidsreddingspan, die Overstrand-verkeersafdeling, ER 24 en selfs Wilderness Search and Rescue betrokke was. ‘n Hommeltuig is ook ingespan om die vermiste swemmer op te spoor,” het Boonzaaier gesê.
Ten spyte van al die reddingspogings is die man se liggaam later onder die water gekry. Paramedici het hom op die toneel dood verklaar.
In nog ‘n voorval is die NSRI-Agulhas se bemanning om 15:15 in kennis gestel van ‘n jong vrou wat tussen ander mense met haar gesig na onder in die branders gelê het.
Volgens Shaun Nortje, Agulhas se stasiebevelvoerder, het die NSRI se reddingswemmers dadelik gereageer en tot die redding van die 18-jarige vrou gekom.
“Sy is na die strand geneem waar hulle haar gestabiliseer het. Daarna is sy na die hospitaal geneem vir waarneming. Ons bedank die ooggetuie vir die vinnige reaksie. As die ooggetuie nie agtergekom het iets is fout nie, sou dit ‘n tragiese voorval gewees het,” het Nortje gesê.





