ATLANTIS – Gemoedere het Vyrdag hoog geloop toe ongeveer 200 inwoners van Witsand na die plaaslike skool opgeruk het om antwoorde te soek. Daar word beweer dat ‘n 7-jarige leerder vermoedelik vroeër die week op die skoolgrond verkrag is.
Volgens ontstoke inwoners van Witsand naby Atlantis, het vermoedelik ‘n opvoeder die dogtertjie Woensdag 12 November tydens skoolure in die toilet verkrag en hulle meen die skool probeer dit nou stil hou.

Volgens kol. Mario Thyse, stasiebevelvoerder van die Atlantis-polisie, ondersoek die Milnerton-kinderbeskermingseenheid (FCS) ‘n aanklag van verkragting. Hy bevestig dat geen verdagte nog aangekeer is nie.
Die inwoners was ook ongelukkig omdat die skool nie ‘n video-opname wat verband hou met die voorval, aan die groep inwoners beskikbaar wou maak nie.
Volgens ‘n betroubare bron het die gemeenskap eers die dag ná die voorval gehoor daarvan waarna die saak onmiddellik aangemeld is.
Volgens dié bron het die ma van die kind die volgende oggend die skoolhoof gaan sien en die saak aangemeld. Sy het gesê die kind het ‘die ‘n opvoeder as die verdagte uitgewys. Die leerder het glo gesê die opvoeder het haar na die toilet toe gevolg. Hier het hy haar vasgedruk en verkrag.
Die inwoners wou ook weet waarom die hoof nie daadwerklik opgetree het teen die vermeende verkragter nie. Hy het onverstoord voortgegaan met werk.
Die inwoners het wel Vrydagmiddag besluit om die skoolterrein te verlaat, maar het belowe dat hulle die saak nie net daar gaan laat nie en op Maandag 17 November gaan terugkeer.
WeskusNuus het ook vertroulik verneem dat Maandag se eksamens afgestel is.





You must be logged in to post a comment.