Familie en vriende van die vermoorde Joshlin Marthinus was Dinsdag baie emosioneel tydens die uitspraak. Foto’s: Murphy Roberts

“Ek sal hom nooit kan vergewe nie …” het die vermoorde Joshlin Marthinus (27) se emosionele ma, Sarah Marthinus, buite die Atlantis-landdroshof gesê.

Charlton Koopman (28), Joshlin Marthinus se gewese kêrel en die pa van haar twee laerskooldogters, is verlede week (Dinsdag 4 November) op ‘n aanklag van moord gevonnis. Hy het ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Charlton Koopman pas nadat hy vir 25 jaar weens die moord op sy kinders se ma tronk toe gestuur is.

Koopman, ‘n tikverslaafde, het erken hy het Joshlin Marthinus op Sondag 15 September 2024 vermoor.
Hy het in die pleitooreenkoms erken hy het haar na sy blyplek gelok om kamstig oor die kinders te praat. Dit was nie lank nie toe hulle begin baklei het en dit later gewelddadig geraak het.

Koopman het erken hy het haar eers gewurg voordat hy ‘n plastieksak oor haar kop gesit en haar versmoor het. Volgens sy verklaring het hy haar lyk onder sy bed versteek nadat hy besef het sy lewe nie meer nie. Hy het vriende gekontak om hom te kom help om van die lyk ontslae te raak.

Die slagoffer is dié noodlottige Sondagoggend winkel toe om vir die kinders te gaan pap koop, maar het het nooit die voorreg gehad om dit te eet óf om haar weer te sien nie. Volgens ‘n familielid van Joshlin Marthinus is haar liggaam later dieselfde dag met ‘n plastieksak oor die kop onder ‘n bed in ‘n houthuisie in Sherwoodpark gevind.

“Ons vermoed Koopman het haar gebel en gesê hy het geld vir die kinders. Joshlin het die gewelddadige verhouding reeds drie jaar tevore beëindig en sedertdien het hy haar verskeie kere gedreig,” vertel die familielid.

“Ons weet nie hoe sy daar beland het nie, maar een ding is seker – sy sou nooit uit haar eie soontoe gegaan het nie,” vertel die verbitterde familielid. Ons vermoed hy het haar halfpad daar gekry met die belofte van geld en haar toe na sy meisie se plek geneem. Dié meisie was ten tyde van die voorval by die werk.”

Volgens die familielid het Koopman se vriend alarm gemaak omdat Koopman glo gesê het hy het haar iets aangedoen nadat haar familie rondgesoek het.

Sanna Marthinus, ‘n niggie van die vermoorde Joshlin Marthinus; Johanna Robertson, ‘n tante van haar en Sarah Marthinus, haar ma, nadat haar moorde- naar 25 jaar tronkstraf opgelê is.

Die familielid vertel verder dat hulle haar foon bly bel het, “maar die gemors het die vermetelheid gehad om haar foon te antwoord en te sê hy weet nie waar sy is nie”.

Koopman het die foon en ander kosbare besittings by ‘n tikhuis probeer verkoop, waar omgekrapte inwoners van Saxonsea hom gekry en byna doodgeslaan het, vertel die familielid.

Koopman moes onder polisiebewaking in die hospitaal behandel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article