Die hartklop van die Afrikaanse taal het Woensdag sterker geklop toe Akademia sy splinterniuwe kampus in die Paarl amptelik bekendgestel het.
Die Afrikaanse universiteit, Akademia, se Paarl-kampus, is vandag amptelik geopen.

PAARL – Die hartklop van die Afrikaanse taal het Woensdag sterker geklop toe Akademia sy splinterniuwe kampus in die Paarl amptelik bekendgestel het.

Die moderne fasiliteit op die hoek van Bredastraat en die Bergrivier Boulevard (die voormalige Nedbank-gebou), is nie net ‘n nuwe kampus nie – dit is ‘n simbool van hoop vir die toekoms van Afrikaanse hoër onderwys in Suid-Afrika.

“Hierdie kampus behoort nie net aan Akademia nie; dit behoort aan elkeen in die gemeenskap wat in die waarde van moedertaalonderrig glo,” het Marthinus Visser, Akademia se besturende direkteur, by die bekendstelling gesê.

Vanaf 2026 sal die eerste groep voltydse studente hier hul studie begin. Dit kom nadat die plaaslike gemeenskap van die begin af saam met die instelling gedroom het.

“Sakeondernemings, alumni, ouers, ondersteuners en vennote het hande gevat – met raad, hulpbronne en geloof in ons visie,” vertel Visser.

Prof. Gawie du Toit, hoof van die nuwe kampus, beklemtoon die historiese betekenis van die ligging: “Die Afrikaanse taalbeweging is hier gebore. Hierdie kampus voltooi as’t ware die kringloop – 125 jaar ná die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners.”

 Die hartklop van die Afrikaanse taal het Woensdag sterker geklop toe Akademia sy splinterniuwe kampus in die Paarl amptelik bekendgestel het.
Belanghebbendes en gaste klink ʼn glasie op die amptelike bekendstelling van Akademia se Paarl-kampus. Dié kampus sal sy eerste groep voltydse kampusstudente in 2026 verwelkom.

Wat bied die kampus?

Die nuwe fasiliteit sluit in:
• Moderne lesingslokale en saamwerkruimtes
• ‘n Ten volle toegeruste biblioteek
• ‘n Sowel-As-koffiewinkel
• Die Winkel vir Akademia-produkte
• Veilige parkering met toegangsbeheer

Die kampus begin met 52 voltydse personeellede – 25 akademici en 27 administratiewe personeel. Teen 2028 sal dit uitbrei na bykans 88 werknemers.

Akademia verwag 340 eerstejaarstudente in 2026, met die getal wat teen 2032 die 2 000-merk sal oorskry. Programme uit al vyf fakulteite sal aangebied word.

Heindrich Wyngaard van die Kaapse Forum het dit só gestel: “Sonder onafhanklike gemeenskapsinstellings loop ons die gevaar om getuies van algehele ineenstorting te raak. Akademia help bou aan ‘n keerwal teen onkunde.”

Drakenstein se uitvoerende burgemeester, Stephen Korabie, verwelkom die kampus as deel van die munisipaliteit se ekonomiese groei-doelwitte.

André Verhoog van die Paarl Vallei Prinsipale Vereniging noem dit “‘n simbool van hoop en die krag wat in samewerkende gemeenskappe opgesluit lê.”

Vir Du Toit verteenwoordig die kampus meer as net klaskamers: “Dit is ons droom dat hierdie kampus ‘n tuiskoms sal wees vir Afrikaanse studente – ‘n plek waar ons saam aan nuwe stories van hoop en uitnemendheid sal skryf.”

Die bekendstelling volg nadat Akademia vroeër vanjaar voorwaardelike goedkeuring van die Raad op Hoër Onderwys se komitee ontvang het.

LEES OOK: Paarl-kampushoof: Gereed én geroepe vir nuwe vestigingstaak

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article