‘n Prokureur van Kimberley in wie se huis daar Maandagmiddag 6 Oktober ‘n brand uitgebreek het, het moedeloos na die vlamme gekyk wat die huis wat hy besig is om op te knap, oorneem.
Die eienaar, Danie Jacobs, wat aanvanklik heen en weer voor die brandende huis in Milnerstraat gestap het, sê hy en sy oorlede vrou, Sandra, het die huis in 1989 gekoop en oor die jare heen verbeter.
Dié straat is bekend vir sy geskiedkundige Edwardiaanse huise waarvan die meeste op die erfenisregister is.
“Ek was by die winkel besig om verfrollers te koop toe my foon lui. Ek het eers nie geantwoord nie, maar dit het aanhou lui. ‘n Buurvrou het gesê ek moet dadelik terugkom, die huis brand. Toe ek hier kom, was die Sol Plaatje-munisipale brandweerdiens op die toneel.
“Ek het oor die jare heen die voorkant van die huis reggemaak, en het voorberei om volgende jaar aan die agterkant te werk. Ek het ook kluise gekoop om belangrike dokumente en items in te berg.”

Jacobs sê hy is verlig dat niemand beseer is nie. Hy het ook nie troeteldiere nie. Sy drie volwasse dogters het reeds die huis verlaat.
Hy gaan nou baie papierwerk hê om van die versekering te eis, sê hy.
“These things are sent to try us,” het hy gelate gesê.
‘n Besorgde buurvrou het vir hom koeldrank gebring.
Intussen is verskeie brandweerwaens aan die voor- en agterkant van die huis geparkeer om die vlamme te blus. ‘n Brandslang is van die brandkraan op die hoek van die straat aangelê, hoewel die koppeling erg gelek het.
Ambulansdienste het ook opgedaag terwyl bure en ander nuuskieriges na die vlamme wat teen dié tyd uit die sinkdak gekom het, gelek het.
Bure het bekommerd toegekyk en sommiges het hul eie huise se dakke bespuit om te keer dat die vlamme na hul huise oorspring.






You must be logged in to post a comment.