Die gort was verlede week gaar in die Langeberg-munisipaliteit met ontstelde verbruikers wat die afgelope week in lang rye by munisipale kantore gestaan het.

Inwoners was verslae nadat hulle krag gekoop het, maar minimale eenhede ontvang het, nadat nuwe kredietbeheermaatreëls ingestel is. Kragaankope word beperk of konvensionele elektrisiteit word afgesny indien die verbruiker agterstallig is.

Inwo­ners sê dié stap was onverwags. Van hulle se reke­ninge is foutief en wys glo dat hulle derduisende rande agterstallig is. Van die inwoners blameer die nuwe munisipale rekeningstelsel, wat aan CCG Systems toegeken is.

Die munisipaliteit het die afgelope Donderdag (25 September) in ‘n kennisgewing op sy Facebook-blad aangekondig dat die implementering van die kredietbeheermaatreëls op agterstallige rekeninge tydelik gestaak word, omdat ‘n groot aantal inwo­ners betalingsreëlings wou tref.

Standard Breërivier Gazette het vroeër berig ‘n groep sakelui en inwoners het op 7 Augustus ‘n petisie aan die munisipaliteit oorhandig. Hulle was bekommerd oor foutiewe rekeninge wat groot kragverbruikers duur te staan kom en die munisipaliteit se inkomste kan beïnvloed. Hulle het ook vrae oor die finansiële bestuur gehad.

Die groep het vandeesweek ‘n brief aan Standard Breederi­vier Gazette gestuur.

“Ten spyte van inwoners se duidelike eise vir ‘n volledige raadsvoor­legging oor die CCG-stelsel, ‘n onafhanklike ondersoek na die goedkeuring en implementering daarvan en ‘n dringende herstel van gesonde begrotings- en finansiële beheer, het die munisipaliteit verkies om die petisie deur onbehoorlike prosedurele vereistes te probeer stilmaak,” het die brief gelui. Inwoners beweer die jongste ongeouditeerde finansiële state dui aan dat die petisie geldig was.

Verspreidingsverliese het volgens hulle gestyg van 5,76% in 2024 tot 16,89% in 2025, wat meer as 51 miljoen kWh teen ‘n koste van R143 miljoen verteenwoordig. Dit is byna vier keer die vorige jaar se R39 miljoen. Slegteskuld-afskrywings het glo meer as verdubbel – van R13,8 miljoen (2024) tot R28,1 miljoen (2025).

Hulle skryf waardedalings (impairments) op debiteure het van R15,6 miljoen in 2024 tot R65,9 miljoen in 2025 toegeneem.

Die groep vra dat die petisie op ‘n raadsvergadering ter tafel gelê word. Die munisipaliteit het reageer dat die verhaling van agterstallige rekeninge gestaak is – ook die beperkings op die aankoop van voorafbe­taalde krag.

Rekeninghouers wat minder elektrisiteit ontvang het hoewel hul rekeninge nie agterstallig was nie, sal vergoed word. Hulle kan die hoofklerk by die betaalpunte by 023 626 8265 of LSibara@langeberg.gov.za kontak.

Inwoners kan ook die hulplyn by 0860 88 1111 skakel. “Ons bly toegewy daaraan om hierdie uitdagings doeltreffend op te los,” het die munisipale bestuurder, Daniël Lubbe, gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article