KAAPSTAD. Vir die eerste keer in Kaapstad se geskiedenis sal 30 000 mans op 1 November in die Athlone-stadion byeenkom vir ‘n gratis Mighty Men-saamtrek.
Hierdie merkwaardige oomblik vind plaas in daadwerklike reaksie op dekades se bendegeweld en gebrokenheid op die Kaapse Vlakte – ‘n kollektiewe verklaring dat genoeg nou genoeg is.
Verlede Vrydag het sowat 200 kerk- en gemeenskapsleiers ter voorbereiding in Athlone bymekaargekom.
Mighty Men Kaapse Vlakte, wat gratis bygewoon kan word, poog om mans van oor Kaapstad en Suid-Afrika heen bymekaar te bring om hul gemeenskappe terug te eis en hoop en genesing te herstel.
Die beweging is deel van Radio Tygerberg 104FM se Healing the City-inisiatief, wat in 2024 begin is nadat ‘n berig in ‘n plaaslike koerant verskyn het oor 121 mense wat binne twee weke weens bendegeweld gesterf het – ‘n tragedie wat nie eens meer voorbladnuus was nie.
“Ons kon eenvoudig nie langer stilbly nie. Die lewensverlies en pyn op die Kaapse Vlakte het ons diep geraak. Hierdie Mighty Men Kaapse Vlakte-byeenkoms is ‘n antwoord op die roepstem van die gemeenskap,” sê Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van die Bloudruk-groep, waarvan Radio Tygerberg deel is.
‘n Program vol inspirasie en hoop




Die sprekers wat op Vrydag se geleentheid bekendgemaak is, is inspirerende manne wat self in bendegeteisterde gebiede grootgeword het.
Die bekende skrywer, sanger en mediapersoonlikheid Johnny Davids en Ivor Swartz, ook ‘n skrywer en deesdae ‘n pastoor, sal aan die woord wees.
Die hoofspreker is die wêreldbekende evangelis Angus Buchan, wat laas in 2018 in Mitchell’s Plain opgetree het. Hoewel hy deesdae nie meer gereeld optree nie, het hy geroepe gevoel om op hierdie geleentheid op te tree en is hy opgewonde om terug in Kaapstad te wees.
“Ek glo van harte dat die mans van Kaapstad die potensiaal het om hul gesinne en gemeenskappe na genesing en herstel te lei. Hierdie beweging herinner ons mans aan hul Godgegewe doel,” sê hy.
Musiek speel ook groot rol op saamtrek
Nog ‘n seun van die Vlakte, Neville D, die ontbyt-omroeper by Radio Tygerberg en Grammy-benoemde kunstenaar, lei die musiekprogram op die dag saam met ‘n groot orkes en ‘n indrukwekkende 100-man-koor.
Mighty Men Kaapse Vlakte is die produk van versoeke van kerk- en gemeenskapsleiers wat saam met Radio Tygerberg werk om praktiese oplossings vir die gemeenskap te vind. Ander gemeenskap-radiostasies soos CCFM en Disa FM dra ook by deur hul luisteraars vir die geleentheid te mobiliseer.
“Die lewe op die Kaapse Vlakte is ongenaakbaar. Die geweld, die verlies aan lewe en die trauma wat daagliks afspeel, verwoes gesinne en ons gemeenskap,” sê past. Theo Roman van die Open Assemblies of God, wat as ‘n kerk- en gemeenskapleier ‘n passie vir maatskaplike opheffing het.
Die geleentheid duur van 14:00 tot 20:00. Bywoning is gratis, maar bespreking is verpligtend by iTickets.






You must be logged in to post a comment.