Harley, Heidi van der Merwe se hond, wat saam met haar die Afrika-rit aanpak om bewusmaking oor kanker te skep. INLAS: Heidi van der Merwe. Foto’s: Facebook

Heidi van der Merwe van Hermanus se geesdrif kan nie gedemp word nie. Dié lewerkankeroorwinnaar se tweede kans op die lewe het van dié merkwaardige vrou ‘n kampvegter en avontuurlustige gemaak en nou het sy net een doel voor oë – om bewusmaking oor lewerkanker te skep.

Heidi is nie net die stigter van “One Liver, One Life” nie, maar dié dapper vrou is ook die ma van drie en iemand wat ander inspireer. Sy gaan vrou-alleen saam met haar hond Harley op ‘n motorfiets klim en in Afrika bewusmaking skep.

“Syfers toon 35% van mense in die wêreld het kroniese lewersiektes en 95% daarvan is op die Afrika-vasteland. Een van die redes is omdat lewerkanker nie vroeg genoeg opgespoor word nie en dit beteken weer dat die meeste van die pasiënte mans is, dus verloor ‘n gesin nie net ‘n pa nie, maar ‘n broodwinner wanneer lewerkanker nie vroeg gediagnoseer word nie,” vertel sy.

Wat Heid nog verder grief, is die feit dat ‘n wanpersepsie bestaan – dat lewerkanker deur alkohol veroorsaak word. “So baie dinge speel ‘n rol in elke soort kanker en dit is waarom ek die mense wil inlig oor lewerkanker.”

Heidi van der Merwe is tans in Afrika.

Heidi se kankerreis het 23 jaar gelede begin en danksy ‘n dokter wat “per ongeluk” die kankerselle op haar lewer opgespoor het, kan sy nou haar storie vertel. Sy vertel sy moes haar galblaas drie dae ná haar seuntjie se geboorte laat verwyder en toe het die dokter die kankerselle op haar lewer aangetref en haar ná ‘n biopsie laat weet dat dit lewerkanker is.

“Ek was nog in die hospitaal – dit het soos ‘n doodsvonnis gevoel. Ek het dadelik besef dat ek nie my seuntjie gaan sien grootword nie, want die oorlewingstyd vir iemand met primêre lewerkanker is maar ses maande.”

Maar vandag – langer as 20 jaar en ‘n tweeling later – is Heidi steeds skoon. Sy is ook die tweede langste lewerkankeroorlewende ter wêreld.

Volgens Heidi het sy die kankerreis aangepak en is sy dankbaar dat sy nie net ‘n tweede kans op die lewe gekry het nie, maar ook haar kinders kon sien grootword. Sy het elke dag gevat soos dit kom en toe, net op ‘n dag, het ‘n boek deur Todd Henry – Die Empty – haar so aangegryp dat sy iets met haar lewe wou doen. In die boek vertel Henry dat jy alles moet doen wat jy graag wil doen voordat jy doodgaan. “Ek het besluit ek gaan – nadat my kinders uit die skool is – iets doen wat ek graag wou doen. Ek het besef ek leef net dag vir dag en streef nie my drome na nie.”

Nadat sy oor haar lewe gaan nadink het, het sy besef sy was nog altyd lief vir motorfiets ry en daarom wou sy ‘n solorit deur Afrika onderneem. Heidi het ook, danksy die insette van dr. Sanju Sonach, besluit om die avontuur aan te pak om lewerkankerbewusmaking in Afrika te skep.

“Almal is nie so gelukkig soos ek om lewerkanker so vroeg op te spoor nie en dis waarom ek deur Afrika reis om ander van die simptome te vertel en hulle hoop te gee.” Heidi gaan die langpad saam met haar hond, Harley, aanpak en begin haar toer deur Namibië waar sy daarna die tog deur Oos-Afrika gaan voortsit. haar probeer kontak maak, maar teen druktyd het sy nog nie terugvoer gegee nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article