Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Ek en ‘n kollega sit die week en gesels oor ‘n storm of drie wat op sosiale media losgebars het. En ons gesels sommer so ‘n bietjie oor werksverwante sake en hoe gou mense vir mekaar kwaad raak.

Dit is opvallend hoe vinnig mense verontreg voel en nog meer opvallend hoe mense veg vir hul eie reg. Ons sien dit al hoe meer, sommer orals om ons heen.

Werkwoede, gesinswoede, padwoede, orals. Dit is asof mense net kwaad is.

Iemand vra my: “Hoekom loop almal se kwaad net oor?” Miskien moet ons so ‘n bietjie nadink oor ons eie kwaad. Dit is goed om ‘n bietjie te werk aan selfbeheersing en, natuurlik, geduld.

Dit is nie goed vir jou om so baie en so maklik kwaad te wees nie.

‘n Goeie eienskap van karakter en integriteit is juis as dat iemand kwaad kan bestuur.

Soms roem mense daarop hoe gou hulle kwaad word of hoe kwaad hulle kan wees of hoe hulle maar van nature so kwaai is. Dit is nie iets om op te roem nie.

Die goue reël is en bly: As jy kwaad word, moenie sondig nie.

Ek dink die week weer aan ‘n stukkie van ‘n berymde Psalm waarmee ons grootgeword het. Dit was so lekker om dit te leer omdat dit so ‘n mooi t-alliterasie in het: “Wees traag tot toorn.”

Ons het dit in ‘n groot mate verleer.

Baie van ons wil vinnig kwaad wees. Ontstel jou tog nie so gou nie. Haal maar ‘n slag asem, tel tot tien.

Oupa Jan van die plaas het ons geleer as iemand baie kwaad word, luister niemand meer nie; as jy ‘n goeie mens kwaad maak wat nooit kwaad word nie, dan het jy te ver gegaan.

Laat ons maar ag slaan op mekaar se binnekant en mekaar nie so kwaad maak nie.

En wanneer jy kwaad word, moenie sondig nie.

Maar bo alles, wees tog traag tot toorn.

Lees nog rubrieke hier en hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article