BLOEMFONTEIN. ‘n Tweejarige meisie van Bloemfontein het op Donderdag 4 September in ‘n swembad op haar ouers se plaas in Bainsvlei geval, en het daarna in die hospitaal gesterf.
Volgens lt.kol. Thabo Kovane, polisiewoordvoerder, het die kind Donderdag omstreeks 10:00 in die swembad op die plaas in Uitzigtstraat, Bainsvlei, geval. Pogings om haar by te bring nadat sy uit die swembad gehaal is, het misluk.
Die dogtertjie, Milé Wasserman, is na die EmoyaMed-hospitaal in die stad geneem waar sy dood verklaar is.
Die Bainsvlei-polisiekantoor ondersoek nou die saak.
Die polisie het ouers in ‘n verklaring vroeër die week gemaan om seker te maak dat hul swembad veilig is, veral noudat die weer warmer is.
‘n Ouer sê sy is bekommerd oor die hek by ‘n bekende laerskool in die stad wat gereeld oop staan wanneer sy haar kind by die skool gaan haal.
“‘n Ongeluk gebeur so vinnig,” sê sy oor die voorval van die meisietjie wat nou in Bainsvlei verdrink het.





