Hy is al by die skool geskors oor sy “skolliemaniere” en het al elders ook probleme veroorsaak, nie net by die skool nie – dit is wat ‘n ingeligte bron aan WeskusNuus verklap het oor die 14-jarige wat vandeesweek (3 September) aangekeer is in verband met ‘n noodlottige skietvoorval.
‘n Vierjarige kleuter is ernstig gewond en ‘n 31-jarige man doodgeskiet, in ‘n straat in die Saxonsea-buurt in Atlantis.

Die oorledene, Llewellyn Botha, ook van dié buurt, is verskeie keer geskiet. Hy is op die toneel dood.
Die minderjarige is danksy flink polisiewerk en inligting vanuit die gemeenskap enkele ure ná die voorval aangekeer, het kapt. Lisa Munro, woordvoerder vir die Atlantis-polisie vandag bevestig.
Die kleuter wat deur die maag geskiet is, sterk tans in ‘n Kaapse hospitaal aan ná ‘n noodoperasie. Volgens ‘n familievriend maak hy goeie vordering, maar daar lê nog ‘n moeilike herstelpad voor.
‘n Anonieme bron het aan WeskusNuus gesê die aanval spruit vermoedelik uit wraak vir ‘n onlangse moord op ‘n selferkende bendelid in die omgewing. Die Atlantis-polisie kon dié gerug egter nie bevestig nie.
Die minderjarige beskuldigde verskyn weer op Vrydag 5 September in die Atlantis-landdroshof om met sy borgaansoek voort te gaan.
Inwoners het behoorlik gal op sosiale media gebraak oor die voorval. Pieter Stoffberg, gemeenskapsaktivis, meen egter daar word baie meer as net praat benodig.
Volgens Stoffberg maak sy veldtog “#piemphulle” beslis ‘n groot verskil en skroom inwoners nie langer om inlingting oor misdadige optrede aan hom te verskaf nie.
“Daar lê nog baie werk voor om die vertroue van die gemeenskap heeltemal te wen,” het hy gesê.
Stoffberg is tans besig om politieke partye en raadslede om een tafel te kry sodat ‘n plan van aksie opgestel kan word.

Stoffberg meen JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid van die Stad Kaapstad, en Anroux Marais, die Wes-Kaapse Minister van polisietoesig en gemeenskapsveiligheid, moet ook deel uitmaak van dié beplanning.






You must be logged in to post a comment.