Twee dinge val my op die afgelope week toe ek redelik vroeg in die oggende stap en redelik laat in die aande. Eintlik het ek, soos baie van ons, redelik lank afgelê in die winter en moet ek die lente gebruik om weer voor te kom.
Dit is immers goed vir ‘n mens se welstand.
Die eerste wat my soos ‘n kind opgewonde laat voel, is wat ek optel. Almal weet al ek het nogal ‘n ding oor ‘n tiensentstuk wat ‘n mens nie net daar los nie, maar optel.
In ‘n week se stappery tel ek ses tiensentstukke op en een twintigsentstuk en ‘n albaster. Dit maak my opgewonde. Nie oor die waarde daarvan nie, maar sommer net omdat dit lekker is.
Ek wonder oor die albaster. Watter seuntjie het dit verloor? Die albaster laat my kop ver draai na my jong kinderdae toe albasterspel deel van elke dag se pouse-ritueel was.
Die geldstukkies is min in waarde, maar dit is lekker om hulle te vind. Hulle kom sommerso oor ‘n mens se pad. Onmiddellik laat hulle my aan genade dink. Dit kom net oor ‘n mens se pad. Jy kan dit nie gaan soek nie. Dit is net daar.
Ek besef hoeveel ons fokus op wat ons nie het nie, in plaas van op wat ons wel het. Die pad-optel-goed is vir my genade-goed. Sommer net.
Die tweede saak wat my opval, is hoe mooi dit is wanneer die seisoen verander. Dit weet ons natuurlik almal, maar die blommeprag wat skielik orals kop uitsteek, laat my meer as een keer verwonderd staan en net kyk, ruik en beleef.
Ons is in ‘n nuwe seisoen. Blomme is pragtig, bome bot, groei lê voor. Die stilstaan-wintertyd is verby. Wat ‘n vreugde, wat ‘n genade om te mag lewe. Genade is oral om ons heen.




