‘n Plaaslike pastoor het bewerings ontken dat hy sonder die insae van sy gemeentelede ‘n kerkgebou in Groendal, Franschhoek verkoop en die geld in sy sak gesteek het.
Pastoor John Slabbert, wat in die Paarl woon, sê hy en sy gemeente, wat onlangs tot so min as 10 lede gedaal het, het saam besluit om die kerkgebou te verkoop omdat dit te duur geraak het om die eiendom te onderhou.
Slabbert is verbonde aan die Ware Evangelie Pinsterkerk van Suid-Afrika.
Sy kerk se Groendal-tak is op die hoek van Skool- en Boonzaaierstraat.
Die eiendom is aan ‘n organisasie genaamd Islamic Relief South Africa verkoop.
Paarl Post het ‘n skrywe bekom waarin die organisasie verduidelik dat hy ‘n veeldoelige gemeenskapsentrum daar wil open.
‘n Inwoner, wat vertroud is met die totstandkoming en geskiedenis van die kerk, het by navraag aan die koerant gesê dit is sinvol dat Slabbert van ongerymdhede beskuldig word omdat dit glo hy was wat die eerste pastoor se vrou uit die kerk geskop het.
“Pastoor Danie Malies en sy vrou, Felicity, het daardie kerk tot stand gebring. Pastoor Malies is sowat 10 jaar gelede oorlede.
“By die kerk se ingang is selfs ‘n bordjie wat lui dat die gebou deur Malies en sy vrou geskenk is. Die gebou is dus veronderstel om op Felicity en haar drie kinders se naam te wees. Hierdie hele transaksie was dus onregmatig,” het die inwoner beweer.
“Pastoor Slabbert het Felicity uit die kerk geskop en hy en sy ouderlinge het oorgevat. Dis daar waar die gemeente se getalle reeds begin afneem het.
“Die hartseerste van alles is dat Felicity en haar vier kinders nou van hul erfporsie ontneem is,” het die inwoner bygevoeg. Felicity Malies het telefonies aan die koerant gesê sy wil nie oor die aangeleentheid kommentaar lewer nie.
“Ek het daardie hoofstuk agter my gesit en wil dit graag so hou,” het sy gesê.
Volgens die inwoner het Slabbert die kerkgebou in ‘n stadium aan die gemeenskap verhuur.
Dít het Slabbert telefonies aan Paarl Post bevestig.
“Dit het te duur geraak om die eiendom te onderhou. Ons het tot onlangs met sowat 10 bejaarde gemeentelede gesit.
“Die offerandes wat ingekom het, was eenvoudig nie genoeg om die maandelikse bedryfskoste te dek nie. Boonop het die gemeente se moraal heeltemal afgeneem.
“Ons het ‘n lang gesprek met die gemeenskap gevoer en het besluit dat die eiendom eerder verkoop moet word,” het Slabbert gesê.
Volgens Slabbert is die idee dat die Groendal-gemeentelede weekliks na die kerk se moedergemeente in die Paarl vervoer word.
‘n Bussie is reeds vir hierdie doelwit gekoop, het Bertus Snyman, Slabbert se regsverteenwoordiger, by navraag bevestig.
Snyman het bewerings verwerp dat Slabbert die [kerk se verkoop-]transaksie se geld in sy sak gesteek het.
“Namens pastoor Slabbert kan ons bevestig dat hy bewus is van ongegronde gerugte van hierdie aard. Dit is egter sy ondervinding dat hierdie gerugte versprei word deur [mense] wat nie lid van die kerk is nie en geen kennis dra van die deeglike en deursigtige proses wat gevolg is nie.”
Volgens Snyman word die opbrengs direk in die kerk se bediening herbelê om die gemeenskapswerk te versterk en sy lede te ondersteun.
Hy sê die kerk voldoen aan ‘n streng finansiële bestuurskode en dat al die geld en transaksies deur die amptelike bankrekening hanteer word.
Snyman het ook bewerings verwerp dat Slabbert glo wyle pastoor Malies se vrou, Felicity, “uit die kerk geskop het”.
“Die bewering is heeltemal onwaar. Sy het die gemeente jare gelede weens persoonlike redes vrywillig verlaat.
“Pastoor Slabbert en mev. Malies is steeds op goeie voet met mekaar en het gereelde kontak.”
Volgens Snyman het die kerk die vakante erf in 2016 by die Stellenbosch-munisipaliteit gekoop.
“Die oprigting van die gebou het eers daarna en ná verskeie geldinsamelingsprojekte plaasgevind. Pastoor Slabbert – soos menige ander lede van die gemeente – het tot die hierdie geldinsameling bygedra.
“Dit was nooit deel van die Malies-familie se persoonlike boedel nie en kon dus regtens nie ‘n erfporsie wees nie. Ons kliënte wens mev. Malies en haar kinders steeds alles van die beste toe.”
Die eiendom is in 2016 van die munisipaliteit na die kerk oorgedra.
Stuart Grobbelaar, ‘n woordvoerder van die Stellenbosch-munisipaliteit, het by navraag gesê die eiendom is gesoneer vir kerklike gebruik of as ‘n plek van aanbidding.
“Daar is tans geen grondgebruik- of bouplan-aansoeke op die munisipaliteit se stelsel vir hierdie erf nie.
“Die munisipaliteit het gevolglik geen rol of belang in die aangeleentheid nie, aangesien dit ‘n suiwer private transaksie tussen twee entiteite is.”





