‘n Groep Groendal-inwoners het Dinsdag (26 Augustus) vreedsaam buite die Paarl-landdroshof betoog. Foto: Rasaad Adams

‘n 55-jarige pastoor van Franschhoek, wat glo pornografiese materiaal met twee minderjarige meisies vervaardig het, se borgtogaansoek is tot Vrydag (5 September) uitgestel nadat hy die afgelope Dinsdag (26 Augustus) van prokureur verander het.

Hy het die tweede keer in die Paarl-landdroshof verskyn nadat hy op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek op klagtes van die vervaardiging en verspreiding van kinderpornografie in hegtenis geneem is.

‘n Groep Groendal-inwoners het Dinsdag vreedsaam by die hof betoog en gevra dat hy nie borgtog toegestaan word nie.

Paarl Post het verlede week berig dat die staat verlede Maandag (18 Augustus) aangevoer het dat hy borgtog sou teenstaan. Omdat die twee vermeende slagoffers dié man vertrou het en weens die feit dat hy in 2017 aan ‘n soortgelyke oortreding skuldig bevind is, is dit volgens die staat genoeg rede om hom nie op borgtog vry te laat nie.

LEES: Staat sal borg teenstaan vir ‘pastoor’ wat glo pornografie met tieners maak

Die man se identiteit is aan die koerant bekend, maar word weerhou om die vermeende slag- offers te beskerm.

Hy het ook nog nie gepleit nie.

‘n 55-jarige pastoor word daarvan beskuldig dat hy pornografiese materiaal met twee minderjariges meisies vervaardig het.

Sy inhegtenisneming hou verband met video’s wat vroeër vanjaar aanlyn versprei is en waarin hy glo seksueel met twee tienermeisies verkeer.

Een van die tienermeisies was in haar skooldrag.

Die polisie se eenheid teen reeks- en elektroniese misdade (SECI) het Saterdag (16 Augustus) op sy selfoon beslag gelê om die inhoud daarvan te ondersoek.

Die groep inwoners, wat Dinsdag buite die hof betoog het, het ‘n petisie begin, wat altesaam 543 handtekeninge ingewin het waarin hulle onder meer eis dat hy nie op borgtog vrygelaat word nie. Die petisie is aan die ondersoekbeampte van die saak oorhandig.

“Ons is hier om vir die hof te sê ons kan nie bekostig dat hierdie man weer vrygelaat word nie. Ons wil graag hê die hof moet ons stem hoor en die gemeenskap in ag neem.

“Sy vrylating gaan getuies en die slagoffers beïnvloed. Ons glo nog ander slagoffers sal na vore kom,” het Eddie Cloete, ‘n gemeenskapsleier en aktivis, buite die hof gesê.

“Ons voel magteloos. Die uitspraak op sy vorige saak was nie genoeg nie. Die hof het ons as gemeenskap gefaal. Al hierdie minderjarige kinders wat hy aangeraak het, loop vandag nog met daardie merke en trauma rond.”

Paarl Post het verlede week ook berig dat die beskuldigde in 2017 aan statutêre verkragting skuldig bevind is en ‘n opgeskorte vonnis in die Paarl-streekhof ontvang het.

Hy is toe daaraan skuldig bevind dat hy ‘n 17-jarige meisie verkrag en swanger gemaak het.

Die meisie het later die baba weens ‘n miskraam verloor.

Die 17-jarige se ma het die huidige hofverskynings bygewoon. Sy het verlede week aan die koerant onthul dat haar dogter reeds van 11-jarige-ouderdom vermoedelik deur die man seksueel voorberei is.

Paarl Post verneem dat die man homself glo as ‘n pastoor in die gemeenskap voordoen.

“Hy doen homself al die jare as ‘n pastoor voor en dis een van die wyses waarop hy die gemeenskap manipuleer,” het ‘n gemeenskapsaktivis gesê.

“Sy eie kerk het aan my bevestig dat hierdie man g’n pastoor is nie. Hulle [die kerk] sou nog aksie teen hom neem, maar dit het nog nie gebeur nie,” sê die aktivis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article