Onlangs word ek op ’n Sondagoggend wakker en die winter klop steeds aan my deur. Die reën stort op my sinkdak neer, en ’n ysige wind dreun om die huis.
Dit maak my sommer behoorlik wakker met die lus vir kosmaak. Nadat ek die slaap uit my oë gevee het, steek ek ’n vuur in my groot vuurherd aan. En met die duiwel wat daar buite woed, gaan ek vandag “duiwelskos” maak, oftewel, chilli – behoorlike brandgoed om die siel warm te maak.
Ek het wel deur die jare weens my liefde vir brandgoed my eie chilli con carne geskep. Maar met ’n bietjie navorsing het ek vasgestel dat die tradisionele Texas-chilli taamlik van my eie verskil.
Daar in Texas kan chilli byna as kulinêre godsdiens beskryf word. Dit is so ‘n ernstige affêre dat daar talle verenigings is wat jaarliks chilli-cook-offs hou wat met enige reuse-sportgeleentheid vergelyk kan word. En al wat ’n deelnemer is, hou sy chilli-resep net so geheim soos ons volwaardige boereworsmakers hul resepte geheim hou.
In elk geval, by deeglike navorsing kom ek agter dat die chilli-puriste nie eintlik daarin glo om tamaties of bone in hul gereg te gebruik nie. Hulle meen bone is net ’n goedkoop plaasvervanger vir vleis en oortollige tamatie versteek die geur van die vleis.
Dan pronk die Amerikaners met ‘n breë verskeidenheid van rissies van elke kleur en geur, en party van hierdie chilli-resepte kan tot tien verskillende variante rissies bevat. Ongelukkig het ons glad nie hierdie voordeel hiér op tuisbodem nie.
Maar ek is baie lief vir chilli en kyk maar verby hierdie puriste en sien en kom klaar met wat ek het en waarvan ek hou – bone ingesluit.
Lise se Chilli Con Carne (vir ses honger siele):
Jy benodig:
- 1 eetlepel olyfolie
- 1 groot ui, fyngekap
- 2 knoffelhuisies, fyngesny
- 1 klein vars rooirissie, fyngesny
- 1 groen soetrissie, fyngesny
- 1 kg bees- of varkmaalvleis
- 2 teelepel komynsade of -poeier
- 1 eetlepel rissiepoeier
- 1 teelepel paprika
- 250 ml beesvleisaftreksel of bier
- 1 blik rooi nierbone, gedreineer
- 1 blik tamaties
- 1 eetlepel suiker
- sout
Om te bedien:
- vars koljanderblare (opsioneel)
- ongegeurde jogurt
Só maak jy:
1. Verhit die olyfolie in ’n swartpot en braai die uie, knoffel en soetrissie stadig saam tot byna sag, en die uie deurskynend.
2. Voeg die maalvleis by, breek die vleis af met ’n houtlepel terwyl jy dit braai. Wanneer dit mooi bruin is, voeg al die speserye by asook sout na smaak en roer deur vir so twee minute.
3. Voeg dan die rooi nierbone, tamaties, aftreksel en suiker by en laat prut stadig vir so ’n uur met die pot se deksel op. Roer deur so nou en dan.
4. Chilli moet so halfpad tussen ‘n bredie en ‘n sop wees, so as dit nie souserig genoeg na jou sin is nie, voeg nog ‘n bietjie bier of aftreksel by. En as jy nog nie die duiwel proe en jy voel nie die brand onder jou kraag nie, gooi ’n skeut Tabasco by totdat hy byt.
5. Sit dit voor met ’n skeppie jogurt en vars koljanderblare.
Maak seker jy het vars brood of roosterkoek byderhand om die heerlike sousie mee op te slurp. Geniet dit!





