’n Sémillon-wyn van La Motte Landgoed in Franschhoek het Suid-Afrikaanse wynbougeskiedenis gemaak deur die prestigeryke Genl Smuts Trofee as algehele SA Kampioen Jongwyn van 2025 te verower.
Die uitstaande prestasie is des te meer opmerklik omdat dit slegs die tweede keer in meer as 30 jaar is dat ’n Sémillon-wyn hierdie topprestasie behaal. Die vorige keer was met Flagstone Winery se Sémillon in 2010.
Die Genl Smuts Trofee, wat vanjaar vir die 74ste keer toegeken is, verteenwoordig die hoogtepunt van die oudste wynkompetisie ter wêreld wat 193 jaar gelede ingestel is.
Drie nasionale trofeë vir KWV
KWV het die Pietman Hugo Trofee vir die wynmakery met die meeste punte verower – die tweede keer in ’n dekade nadat hulle dit ook in 2015 gewen het. Die kelderreuse het uitgeblink deur drie Nasionale Trofeë te verower: – KWV Sauvignon Blanc – KWV Chardonnay (gehout)
– KWV Cabernet Sauvignon/Malbec/Petit Verdot (gehout)
Twee wynmakerye het elkeen twee trofeë weggeloop:
Vergenoegd Löw Wynlandgoed het onderskeidelik die Kampioen Cabernet Sauvignon (gehout) en die Kampioen Oesjaar Kaapse Styl-trofeë verower.
Botha Kelder het die Kampioen Ander Rooi Kultivar met ’n Ruby Cabernet (gehout) en die Kampioen Dessertwyn met ’n Hanepoot Jerepigo ingepalm.

Uitstaande oesjaar se kwaliteit bekroon
Die jaarlikse skou vir wyne van die huidige oesjaar word aangebied deur die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) in samewerking met Agri-Expo. Vanjaar het 1 387 inskrywings deur 88 spesialis-beoordelaars op 13 panele beoordeel in die Pavilion-saal op Nederburg in Paarl.
Altesaam 52 wyne het Klaswenner-status behaal terwyl 131 Goue Medaljes ontvang het.
Volledige lys van SA Kampioene
- Sémillon: La Motte Landgoed
- Sauvignon Blanc: KWV
- Chardonnay (gehout): KWV
- Chenin Blanc: Spier Wines (gehout)
- Ander Wit Kultivar: Robertson Winery Colombard (gehout)
- Wit Versnitwyn: Badsberg Cellar Chenin Blanc/Chardonnay
- Natuurlike Soetwyn: Perdeberg Wines Natural Sweet White Wine (gehout)
- Edellaatoeswyn: Groot Phesantekraal NLH (gehout)
- Cabernet Sauvignon (gehout): Vergenoegd Löw Wynlandgoed
- Shiraz: Diemersdal (gehout)
- Pinotage: Wellington Wines (gehout)
- Merlot: Montagu Winery
- Cabernet Sauvignon/Malbec/Petit Verdot (gehout): KWV
- Ander Rooi Kultivar: Botha Kelder Ruby Cabernet (gehout)
- Oesjaar Kaapse Styl: Vergenoegd Löw Wynlandgoed
- Muskadel: Aan de Doorns Winery Rooi Muskadel Jerepigo
- Dessertwyn: Botha Kelder Hanepoot Jerepigo
Paarl het uitgeblink as die top wynstreek met ses Nasionale Trofeë, gevolg deur Breedekloof/Worcester en Stellenbosch met vier elk. Klein-Karoo, Robertson en ’n individuele inskrywing het elk een trofee verower.
Hoë kwaliteit beloof goeie jaar vir verbruikers
Voorsitter van die SA Jongwynskou, Christo Pienaar, het die uitsonderlike gehalte van vanjaar se jongwyne toegeskryf aan een van die beste oesjare met uitnemende klimaatstoestande.
“Dit het pragtige, geurige wyne opgelewer en rooi wyne met besonder diep kleure. Verbruikers kan uitsien na kwaliteit wyne wat vanjaar gemaak is,” het Pienaar gesê.
Hy het bygevoeg dat dit verblydend is dat die nasionale wenners van regoor die land se wynproduksiegebiede kom, sowel as van ’n verskeidenheid tipes wynmakerye.
As wenners van die Genl Smuts en Pietman Hugo Trofeë kan een wynmaker elk van La Motte Landgoed en KWV onderskeidelik uitsien na ’n geborgde ses-daagse reis na die buiteland – danksy ’n vennootskap tussen die SANWSV en Porex sedert 2019.






You must be logged in to post a comment.