Inwoners van woonstelle wat aan die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley behoort, voel hulle is in ‘n doodloopstraat met hul klagtes oor dienslewering, die manier hoe hulle deur sommige munisipale amptenare behandel word, en veral hoe die heraansluiting van elektrisiteitstoevoer hanteer word.

Munisipale woonstelle in Beaconsfield
Toestande in en om munisipale woonstelle van die Sol Plaatje-munisipaliteit dui daarop dat geen of weinig dienslewering plaasvind, soos by dié kompleks in Beaconsfield. NoordkaapBulletin het in Februarie 2022 foto’s by dieselfde T-aansluiting geneem. Toe reeds was daar vir hoe lank opgedamde plate water weens foutiewe stopkrane. Foto’s: Helena Barnard

Die inwoners van die munisipale woonstelblokke maak van betaalmeters vir elektrisiteit gebruik, maar dié meters word gereeld deur die munisipaliteit geblok.

Een inwoner vertel dat die betaalmeter in haar woonstel al vir twee jaar geblok is. Met haar intrek in die woonstel was die elektrisiteitstoevoer reeds geblok weens die vorige huurder se nie-betaling van munisipale dienste.

Ná twee jaar het sy al moed opgegee om die betrokke amptenare van die munisipaliteit te oortuig dat sy nie vir die vorige huurder se skuld verantwoordelik is nie.

“Dit is ‘n duur lewe wat ek lewe,” vertel sy, en sê dat sy elke dag vars kos moet koop. Sy maak van ‘n gasstofie gebruik om kos te maak, en snags gebruik sy en haar kind kerslig.

“Dit voel of jou lewe gebreek is,” vertel nog ‘n inwoner wie saam met sy vrou en kinders in ‘n woonstel bly. Hul elektrisiteit is geblok weens ‘n agterstallige diensterekening. Ongeag daarvan dat sy vrou, die enigste broodwinner in die huis, al telkens ‘n ooreengekome bedrag per maand betaal het om die kragtoevoer weer aan te sluit, gebeur dit nie.

Hy vertel dat hulle nie ‘n gasbottel besit nie, en dat hy soggens vroeg na familie verder op in die straat stap om warm water in ‘n emmer te gaan haal sodat die kinders voor skool kan was.

“Ons kan nie kook nie, en hier by die flats kan ons ook nie eens ‘n vuurtjie maak nie,” sê hy.

‘n Ander een vertel dat sy vir jare deur ‘n amptenaar “geboelie” is, en dat sy vir ‘n jaar sonder elektrisiteit moes klaarkom “om haar ‘n les te leer”.

Dispuut duur al 15 jaar

Nog ‘n inwoner se kragtoevoer word sporadies geblok weens ‘n dispuut wat so ver as 15 jaar terug strek. Sy toegekende huis is by hom afgeneem nadat hy vir ‘n tydperk in Bloemfontein gewerk het en sy meubels in sy afwesigheid uit die huis verwyder is, met niemand wat tot nou kan aandui waar sy meubels gestoor sou wees nie.

Hierna, na vele dispute en ook beslissings volgens die Openbare Beskermingswet, het die munisipaliteit glo ‘n ooreenkoms met hom gemaak dat hy nie huur hoef te betaal terwyl hy “tydelike verblyf” in ‘n munisipale woonstel het nie.

Tog word die elektrisiteit by sy betaalmeter gereeld geblok omdat hy nie huur betaal nie. Telkens betaal hy ‘n bedrag om dit weer aan te sluit. Ongeag die bedrag wat hy op 30 Julie betaal het, was die krag middel Augustus steeds nie aan nie.

“Ek hardloop al vanaf einde Maart rond sonder krag,” sê hy en vertel dat hy al soveel kos in sy kombinasie ys-en-vrieskas verloor het wanneer die krag so gereeld geblok word.

Hy gebruik ‘n gasstofie om kos mee te maak, en wanneer hy sy elektriese naaimasjien moet gebruik om ander se klere teen betaling te verstel, of selfs gordyne te maak, moet hy by bure aanklop om by hulle elektrisiteit te gebruik.

Volgens dokumente in sy besit word aangedui dat die munisipaliteit ‘n huis aan hom sal verskaf sodra een beskikbaar is. Hierop plaas hy nie sy hoop nie, en sê dat hierdie dispuut met die munisipaliteit “sy lewe gevat het”.

Voordele vir dié met behoeftige status skraps uitgedeel

Ander inwoners vertel dat hulle gekwalifiseer het vir die status as ‘n behoeftige (indigent), maar dat die voordele ná weke steeds nie tot hul beskikking is nie.

Volgens die munisipaliteit se “Indigent Household Policy” kry sulke huishoudings – met ‘n maandelikse inkomste van minder as R4 500 – onder meer 50 eenhede elektrisiteit, 6KL water, en hulle hoef nie vir sanitasie en vullisverwydering te betaal nie.

Indien dit aan inwoners wat daarvoor kwalifiseer het, toegestaan word, sal dit ‘n drastiese positiewe invloed in die gehalte van hul lewe meebring.

Volgens inligting op ‘n regsfirma se webwerf is dit nie onwettig dat munisipaliteite betaalmeters blok indien ander dienste agterstallig is nie. Die inwoner moet egter ‘n minimum van 14 dae skriftelike kennisgewing kry dat dit gaan gebeur – indien dié kennisgewing nie gegee word nie, is die afsluiting onwettig.

Indien die afsluiting ook nie binne die 14 dae plaasvind nie, moet ‘n kennisgewing weer uitgestuur word.

Behandeling is ‘onmenslik, boeliegedrag’

Volgens Bassil Herbert (HB) Japhta van die gemeenskapsorganisasie Community Alliance South Africa (Casa), wie die inwoners met raad en daad oor onder meer waterkwessies, geblokte meters en uitsetting bystaan, is daar geen konsekwentheid in hoe agterstallige munisipale rekeninge hanteer word nie. Inwoners is ook bang vir uitsetting wanneer hulle kla oor ander dienste wat nie gelewer word nie.

‘n Mens het wysheid nodig om al hierdie probleme aan te spreek.

Bassil Herbert (HB) Japhta, Community Alliance South Africa (Casa)

Hy sê daar is individue, besighede en departemente wat miljoene se agterstallige elektrisiteitsrekeninge by die munisipaliteit het, maar hul krag word nie geblok nie. Verlede week het die munisipaliteit in ‘n verklaring gesê dat huishoudings in die stad hulle R2,6 biljoen (billion) skuld op agterstallige diensterekeninge wat elektrisiteit insluit, besighede R715 miljoen, en regeringsdepartemente R783 miljoen.

Talle inwoners van die woonstelle is ook ongelukkig oor die onkonsekwentheid van wie hoeveel huur moet betaal. Hulle vertel die huurgeld verskil drasties.

“Ons soek fairness – almal in dieselfde omstandighede moet dieselfde betaal,” sê een.

‘n Ander een sê sy het haar trots, en wil huur betaal. “Maar ek kan nie dit betaal wat die munisipaliteit van my vra nie,” sê sy. ‘n Ander voeg by dat dit verwag word om vir dienste te betaal, maar dié dienste word skaars gelewer.

Japhta beskryf die behandeling wat dié inwoners vanaf die munisipaliteit ontvang as onmenslik en boeliegedrag. As Casa wil hulle graag sien dat die munisipaliteit afdeling vir afdeling verantwoordelik gehou word vir dit wat hulle veronderstel is om te doen.

“Te veel amptenare besef nie hulle is daar geplaas tot diens van die inwoners nie. As jy arrogansie soek, sal jy dit by hulle kry. Hulle dink dit gaan oor hulle,” sê Japhta.

  • Die Sol Plaatje-munisipaliteit se kommentaar oor die munisipale woonstelle en die hantering van die betaalmeters is gevra – die kommentaar sal verskaf word sodra dit ontvang is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article