KIMBERLEY – Nog ‘n sege vir die Griekwas in vanjaar se Curriebeker-reeks het dié Noord-Kaapse span twee trappe op die punteleer laat klim – van die sesde na die vierde plek.
Hoewel die Poubloues se tuis-oorwinning van 26-17 op Vrydag 15 Augustus oor die Haaie ‘n hupstoot was, gaan die span se volgende drie wegwedstryde hulle behoorlik toets.
Volgens die wedstrydverslag op griquasrugby.co.za het die Griekwas Vrydag hul rustyd-agterstand van 7-10 – ná ‘n versigtige harde stryd in die eerste helfte – met deursettingsvermoë en vasberadenheid na ‘n sege in die tweede helfte omgekeer.

Hulle het in die tweede helfte met vuur uitgekom, druk in punte omskep en die Haaie se gebrek aan dissipline benut.
Elke strafskop, balverlies en geleentheid is benut – die soort rugby wat ‘n kenmerk van hierdie Griekwas-span geword het.
Die Haaie se onvermoë om kalmte te behou het hulle duur te staan gekom. Die Griekwas was genadeloos, het foute gestraf en die tuisskare se energie gebruik om ‘n geesdriftige sege te verseker.
Puntemakers vir die Griekwas was:
- drieë: Caleb Abrahams, Dylan Maart, Derik Pretorius en Gurshwin Wehr;
- doelskoppe: George Whitehead (3); en
- strafdoele: George Whitehead.
Hierdie sege het ook die Poubloues se reputasie as een van die veerkragtige spanne in die kompetisie versterk.
Geesdriftige toeskouers
Soos met die vorige tuiswedstryde het ‘n behoorlike gees by die Suzuki-stadion in Kimberley geheers. Omliggende skole is genooi om by die skare aan te sluit om die Griekwas aan te moedig.
Toeskouers is tydens rustyd op ‘n Suzuki-boksmotorwedren trakteer. Die wenners het R1 000 kontant gewen, terwyl die naaswenners koopbewyse vir ‘n ete by The Heights-restaurant ingepalm het.

Die ondersteuners van die Hoërskool Roodepan is as die algehele wenners van die Suzuki Griekwas-skolekompetisie aangewys en hierdeur met ‘n prys van R10 000 weggestap vir hul ongeëwenaarde energie. Die ondersteuners vanaf Kimberley Boys’ High School het net soos verlede week die tweede plek behaal en met R5 000 in die sak huis toe gegaan.

Volgende kragmetings
Griekwas se volgende drie wedstryde teen sterk aanspraakmakers is:
- Sondag 24 Augustus om 15:00 teen die Bulle op die veld van Tuine – Grizzlies Rugbyklub in Pretoria;
- Vrydag 29 Augustus om 17:00 teen die Luiperds op die Toyota-stadion in Bloemfontein; en
- Saterdag 6 September om 17:00 teen die Leeus te Emirates Airline-park in Gauteng.
Besoek die Facebook-blad Griquas rugby – G.W.R.U. vir meer inligting.







You must be logged in to post a comment.