SA gewigoptellers
Lurenda Cleaven, hoof van sport en kultuur by die Laerskool Pellsrus, is saam met Lumar Karolse en die afrigter Pieter Pretorius trots op die skool se SA kampioen.

Ontmoet Suid-Afrika se jongste gewigoptellers.

Hulle is Kenith Mondeka en Chester Karolse van die Laerskool Pellsrus op Jeffreysbaai. Albei is net ses jaar oud.

Die Oos-Kaapse afrigter, Pieter Pretorius, sê sommiges sal dalk frons oor hulle ouderdom, maar hy sê dis die Europeërs en die Chinese se strategie om kampioene van die toekoms so vroeg as moontlik te kweek.

“Dis op dié sesjarige ouderdom waarop die pikkies in dié lande met die sport kennis maak,” sê hy.

Pellsrus is dus nie net loshande Suid-Afrika se sterkste gewigoptel-skool nie, maar maak nou ook geskiedenis met Mondeka en Karolse wat tot die sport toegetree het.

Pretorius sê hy is reeds in 2018 ontnugter toe hy Jayden Pretorius by die Jeug Olympics vir o.17-atlete afgerig het.

“Ek moes toe tot my skok agter kom dat Jayden net drie en ‘n halwe jaar geoefen het teenoor sy teenstanders wat reeds tien jaar agter die rug gehad het.

“Ons het dus ‘n massiewe agterstand gehad.

“‘n Vroeë begin is dus die resep tot sukses in die gewigoptelsport,” sê hy.

Oor Mondake en Karolse sê Pretorius: “Die twee pikkies het elke dag na skool by die gim se deur kom staan en grootoog gekyk hoe die kinders oefen.

“En toe my atlete onlangs ná die junior SA kampioenskap in die Kaap teruggekeer en Lumar Karolse se groot o.14 Kampioen van Kampioene-trofee gesien het, het hulle die moed bymekaar geskraap en vir my kom vra of hulle maar mag saam oefen.

“Toe die een lifter vir my sê Chester is Lumar se boetie, het ek geweet daar móét talent wees.”

Lumar Karolse het in die Kaap die SA o.14-titel gewen en is bestem vir groot hoogtes. Al het sy trofee ‘n hele maand laat op Jeffreysbaai aangekom, is dié spogstuk ‘n groot aanmoediging vir die jonges, sê Pretorius.

Vir Mondeka en klein Karolse lê die klem voorlopig op tegniek.

“Hulle sal basies hulle eerste jaar net met leë bars werk voordat ek sal dink om gewiggie by te sit.”

SA gewigoptellers
Voor is Kenith Mondeka en Chester Karolse wat groot drome najaag. Agter is Suid-Afrika se beste o.14-deelnemer, Lumar Karolse. FOTO’S: VERSKAF

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article