Yara
Yara Suid-Afrika het regsteppe geneem teen ‘n plaaslike aktivis, Herschel Arendse. Foto: Yara Suid-Afrika/ webtuiste

PAARL – Yara se Suid-Afrikaanse tak het regsverteenwoordigers ingespan teen ‘n Paarlse omgewingsaktivis wat die maatskappy al vir jare van onwettige praktyke beskuldig.

Yara, ‘n internasionale landboumaatskappy, wat hoofsaaklik kunsmis vervaardig en landbou-oplossings bied om boere te help om gewasse meer doeltreffend te produseer, vervul wêreldwyd ‘n belangrike rol in voedselproduksie.

Die maatskappy, wat in 1905 gestig is en grotendeels deur die Noorweegse regering besit word, fokus daarop om voedselsekerheid te bevorder terwyl dit ook volhoubare omgewingspraktyke ondersteun.

Die aktivis Herschel Arendse voer al jare ‘n veldtog teen Yara Suid-Afrika en beweer die maatskappy bedryf ‘n onwettige kunsmisfasiliteit op erf 10795 in Charleston Hill.

Volgens Arendse stel dié aanleg inwoners van die Paarl aan skadelike stowwe bloot omdat die korrekte prosedures vir die vermenging van kunsmis na bewering nie gevolg word nie.

Paarl Post berig reeds sedert 2018 oor die aanleg en die bewerings van gesondheidsgevare.

Die koerant het in April 2018 berig geen kunsmis word op die terrein vervaardig nie, maar slegs die vermenging van verskillende soorte kunsmis soos wat landboukundig vir die betrokke grondsoort en boerdery-aktiwiteit vereis word, vind plaas.

Arendse beweer verder dat die Drakenstein-munisipaliteit (DM) by die beweerde onreëlmatighede betrokke is en die maatskappy beskerm – aantygings wat die munisipaliteit in 2019 aan Paarl Post ontken het.

Volgens Wikus Grover, die besturende direkteur van Yara Suid-Afrika, gaan die maatskappy geen kommentaar lewer nie.

Yara
Yara se destydse fabriek in die Paarl. Foto: Argief/ Christiaan du Plessis

“Neem asseblief kennis dat die aangeleentheid tans in die hande van ons regsverteenwoordigers is,” het hy gesê.

Paarl Post het Arendse om kommentaar genader, maar teen druktyd geen reaksie ontvang nie.

In ‘n Facebook-plasing van 10 Februarie, wat sedertdien verwyder is, het Arendse gesê hy het ‘n staakbrief (cease and desist letter) van regsverteenwoordigers, wat Yara Suid-Afrika verteenwoordig, ontvang.

Arendse het aangevoer hy het die brief ná ses jaar se volgehoue uitsprake oor omgewingsgeregtigheid in Charleston Hill ontvang en hy staan by sy uitsprake omdat dit volgens hom deur bewyse gesteun word.

Hy het gesê hy meen inwoners van die Paarl – veral kinders – het die reg om te weet hoe die munisipaliteit hulle volgens hom in die steek gelaat het.

Volgens Arendse was die munisipaliteit reeds sedert 2003 bewus daarvan dat ‘n sekere optrede in stryd met Suid-Afrika se omgewingswette was.

Hy beweer verder dat twee luggehalteverslae in 2019 vervals is in ‘n poging om “die waarheid te verdoesel”.

Dié verslae het glo verkeerdelik aangedui dat produksievolumes onder 70 000 ton per jaar was en is volgens hom ook nooit onderteken toe dit aan die sogenaamde “5 November 2020” burgemeesterskomitee voorgelê is nie.

Hy voer verder aan die maatskappy wil nou ‘n tydelike interdik teen hom verkry – iets wat hy as ‘n poging om hom “stil te maak”, beskryf.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article