Die Zimbabwiërs wat op 6 Julie naby die Hugenote-tonnel buite die Paarl deur wetstoepassers voorgekeer is weens ’n gebrek aan die korrekte dokumentasie, is op boetes vrygelaat, maar wag tans op deportasie.
Die bus het ook ’n sleepwa gehad en Paarl-polisiebeamptes het nog ongedokumenteerde Zimbabwiese vroue en kinders in die sleepwa aangetref.
Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), moes die 22 passasiers skuld erken en boetes van R1 000 elk betaal (R22 000 altesaam) waarna hulle vrygespreek is.
Hulle wag tans op deportasie.
“Die saak teen die twee busbestuurders, Aleck Mukwenda en Tellmore Runganga, is tot 24 Julie vir hul borgtogaansoeke uitgestel,” sê Ntabazalila.
Dit is nog onduidelik wanneer die Zimbabwiërs wat vrygespreek is, gedeporteer sal word.
Tydens Leon Schreiber, die minister van binnelandse sake, se toespraak by sy begrotingsrede in ’n sitting van die Nasionale Vergadering, het hy gesê sy departement sal daarop fokus om onwettige immigrasie te stuit.
“Suid-Afrika moet baie meer doen om onwettige immigrasie te bekamp. Ons moet dit doen omdat dit sentraal is tot ons nasionale veiligheid, maar ook uit ons verbintenis tot ekonomiese groei. Die werklikheid is niemand sal Suid-Afrika wil besoek of hier wil belê nie as ons toelaat dat ons land beheer oor sy grense en binnelandse veiligheid verloor,” het Schreiber in sy rede gesê.
“[Die departement van] binnelandse sake sal in die komende jaar die aantal inspeksies by restaurante, spaza-winkels, plase en myne met meer as 50% verhoog om op te tree teen mense wat onwettig in diens geneem is.
“Hierdie inspeksies is die doeltreffendste wanneer dit in samewerking met ander departemente gedoen word, soos die departement van indiensneming en arbeid, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens en die plaaslike regering.”
Volgens Schreiber sal die departement ook die Immigrasie-adviesraad heraktiveer wat, onder andere, die toekoms van die omstrede Zimbabwiese vrystellingspermit sal bespreek.
Nadat die Zimbabwiese bus deur die Paarl-polisie deursoek is, is dit na die Paarl-polisiekantoor begelei, waar dit in die parkeergebied oorkant die polisiekantoor langs die Bergrivier Boulevard moes parkeer en wag. Die bus, wat aan Mhizha Tours behoort, was van Harare na Kaapstad op pad.
Volgens ’n persverklaring van die Wes-Kaapse polisie het ’n passasier ook ’n polisiebeampte met R50 000 probeer omkoop, maar nie daarin geslaag nie.





