Zhandré Hattingh (regs met die bal in die linkerhand).

Credit: SYSTEM

Zhandré Hattingh (18), ’n belowende jong sportster wat oorspronklik van Worcester is en deesdae sy sporttalent in die Suid-Westelike-distrikte (SWD) uitstal, is vinnig besig om groot opgang in rugby te maak.

Zhandré is ’n matrikulant aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai, en is pas in die o.19 rugby-uitnodigingspan wat aan die einde van die jaar in Italië gaan rugby speel, opgeneem.

Zhandré het reeds as laerskoolleerder aan Worcester-Oos Primêre Skool sy uitsonderlike sportvaardighede op die atletiekbaan én rugbyveld ten toon gestel. Hy het toe reeds met talle medaljes en ander erkennings gespog.

Hy is ook al as laerskoolleerder in Bolandse atletiek- en rugbyspanne opgeneem.

Tydens sy tyd as hoërskoolleerder aan die Hoër Tegniese Skool Drostdy, tot in 2018, het hy as middelafstand-atleet asook veelsydige agterspeler uitgeblink.

Hy het ook provinsiale kleure in atletiek en rugby verdien.

Sy ouers het aan die einde van 2019 na die Suid-Kaap verhuis, waar hy sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Punt in Mosselbaai voortgesit het.

Zhandré het intussen ook sy SWD-kleure in beide sportkodes verwerf, wat later uitgeloop het in sy opname in die Suid-Afrikaanse 0.19-uitnodigingspan.

Om alles te kroon, is sy jonger broer ook ’n uitblinker op die sportveld en hy beoog om sy hoërskoolloopbaan aanstaande jaar aan die Hoërskool Punt voort te sit.

Hierdie sportprestasies kom egter as geen verrassing vir Worcesteriete nie, omdat die Hattingh-familie ’n bekende sportfamilie in Worcester is.

Zhandré se pa, Eugene, was self ’n uithaler-sportman, saam met sy ander broers wat bekend was vir die kookwater-rugby wat hulle as lede van veral die Primrose-rugbyklub van Worcester opgelewer het.

Die broers se oupa, Jaftha “Boetie” Hattingh, is in 1974 as vleuel in die destydse Boland-rugbyspan opgeneem.

“Boetie” het ná sy uittrede ook ’n bekende skeidsregter geword word, wat selfs in Suid-Afrikaanse bekerwedstryde diens gedoen het.

Later het hy ’n bekende afrigter geword en het Worcester Perseverance vir ’n paar seisoene afgerig.

Deesdae is Jaftha nou betrokke by Primrose-rugbyklub.

Vir Zhandré om opgeneem te word in die Suid-Afrikaanse 0.19-uitnodigingspan, wat in die buiteland gaan speel, bring natuurlik ook finansiële verantwoordelikhede.

Derhalwe vra sy ouers vir geldelike skenkings om hierdie droom van Zhandré te help bewaarheid.

. Sy pa, Eugene, kan gekontak word by 083 868 1812, of Rozanne, Zhandré se ma, by 084 8173 595.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article