Die Zazon-vlakkiekrieket-A-span van Worcester met hul trofee.

Credit: SYSTEM

Die Zazon United-vlakkie­krieketklub se A-span van Hexpark het verlede Sondag as die Big Bash-kampioene weggestap nadat hulle die Quickies geklop het.

Die span het ’n sterbelaaide Quickies-span in ’n riller van ’n eindstryd met vyf paaltjies geklop.

Die Quickies het die loot gewen en besluit om eerste te kolf, maar dit blyk toe die verkeerde besluit te gewees het aangesien hy nooit werklik aan die gang kon kom nie – die paaltjies het met reëlmaat gekantel.

Die Quickies het teen die agtste boulbeurt slegs 28 lopies vir die verlies van ses paaltjies aangeteken.

Edwin January was die doring in Quickies se vlees en het toe reeds vier paaltjies vir 14 lopies in net drie boulbeurte laat val, terwyl Ruben en Ashwin Lukas met ’n vennootskap van 27 lopies tussen hulle die kastaiings uit die vier probeer krap het. Ruben was uiteindelik uit met die telling 46 vir 7 paaltjies.

Eashwin van der Westhuizen het verder bygedra dat Quickies ’n heel skaflike 58 lopies aangeteken het.

Zazon, daarenteen, het redelik goed gekolf en sy eerste paaltjie vir 12 lopies afgestaan.

Edwin Januarie het ook nie ’n goeie dag met die kolf beleef nie en slegs agt lopies aangeteken voordat hy deur Enrique Avontuur uitgevang is met Zazon op 23 vir drie paaltjies.

Die wedstryd het toe ’n wending geneem toe Quickies hom onder leiding van Ashwin Lukas terug in die wedstryd geboul en die lopietempo vir Zazon geleidelik opgestoot het.

Met Quickies wat Zazon voor die penne vasgepen het, het die toeskouers op die punte van hul stoele gesit.

Zazon moes toe nege lopies van die laaste boulbeurt aanteken vir ’n oorwinning, en die senuwees van beide spanne het erg geknaag.

Een lopie is aangeteken, asook ’n reuse-ses, wat die wedstryd in Zazon se guns geswaai het, en slegs twee lopies van vier balle het tussen hulle en ’n oorwinning gestaan.

Met honderde singende Zazon-ondersteuners het Renaldo Phillips toe die wenlopies aangeteken om aan Zazon sy eerste titel ná ses probeerslae te besorg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article