Wes-Kaapse provinsiale wetstoepassers het Saterdag (25 November) nóg ’n groot vrag dagga uit die strate gehaal.
Dit volg nadat verkeersbeamptes ’n vragmotor vir roetine-inspeksie op die N1 tussen Laingsburg en Leeu Gamka voorgekeer het.
Terwyl hulle die twee sleepwaens van die vragmotor ondersoek het, het die beamptes 40 sakke saamgeperste dagga opgespoor, wat altesaam twee ton geweeg het. Die geraamde straatwaarde is R16 miljoen.
Die bestuurder is in hegtenis geneem en by die Laingsburg-polisiekantoor aangehou.
Hierdie dwelmvonds volg net ’n week nadat Wes-Kaapse provinsiale verkeersbeamptes en die Worcester-polisie ook ’n groot daggabesending ter waarde van R7 miljoen op die N1 in Worcester onderskep het, wat moontlik gemaak is deur ’n wenk wat vooraf van ’n lid van die polisie ontvang is.
Die Wes-Kaapse minister van mobiliteit, Ricardo Mackenzie, het die goeie optrede en beslagleggings deur provinsiale verkeerswetstoepassers verwelkom en gesê sulke optrede dra aktief by tot die veiligheid van inwoners en besoekers aan die provinsie.
“Ek moedig alle padgebruikers aan om die toegewyde spanne te ondersteun wat hard werk om julle veilig te hou, veral terwyl ons die feestyd binnegaan.”
Die Wes-Kaapse minister van polisie en gemeenskapsveiligheid, Reagen Allen, het ook die spanne gelukgewens: “Dwelms is ’n hoofoorsaak van die geweld en moorde wat ons provinsie teister. Deur besendings smokkelware op ons paaie te onderskep, beteken dit die goedere kom nie ons gemeenskappe binne nie.
“Diegene wat by hierdie onwettige bedryf betrokke is, moet voortdurend ontwrig word. Ek doen ’n beroep op ons gemeenskappe om voort te gaan om alle wetstoepassingsagentskappe, insluitend verkeer en die polisie, in te lig oor waar onwettige goedere is en wanneer daar planne is om dit na verskillende plekke te vervoer. Dit stel ons in staat om dit uit ons samelewing te verwyder en ons provinsie veiliger te maak.”
Provinsiale verkeersinspekteurs het van 20 tot 26 November 321 geïntegreerde padblokkades, voertuigkontrolepunte en spoedbeheeroptredes opgestel en 30 328 voertuie oor die Wes-Kaap heen voorgekeer en ondersoek.
Altesaam 8 198 boetes is uitgereik vir verskeie verkeersoortredings wat wissel van bestuurder- tot voertuigfiksheid. Veertien voertuie is geskut en 104 is gestaak omdat dit onpadwaardig bevind is.
Altesaam 208 spoedoortredings is aangeteken, met die volgende hoogste spoed:. 160 km/h in ’n 120 km/h-sone;. 183 km/h in ’n 100 km/h-sone;. 119 km/h in ’n 80 km/h-sone;. 90 km/h in ’n 60 km/h-sone; en. 79 km/h in ’n 40 km/h-sone.
Altesaam 84 mense is in hegtenis geneem weens die volgende oortredings:. 52 vir bestuur onder die invloed van alkohol;. een vir spoed;. sewe vir roekelose en nalatige bestuur;. ses vir oorlaaide voertuie;. sewe vir die besit van bedrieglike dokumentasie;. een vir oorreding van enige gemagtigde beampte of vredesbeampte om in stryd met sy/haar plig op te tree;. een vir versuim om inligting te verskaf;. een vir die besit van gesteelde eiendom;. een vir die besit van ’n gesteelde voertuig;. een vir die besit van ’n onwettige middel (cannabis);. twee ongedokumenteerde mense;. een vir belemmering/verhindering van ’n gemagtigde beampte in die uitvoering van sy/haar plig;. een vir poging tot kaping; en. een vir opsetlike beskadiging van ’n voertuig of peuter aan ’n voertuig.





