“Ek het vrede. Die Here mag my maar kom haal.”
Só lui die boodskap wat Henrietta Deelman (65) op haar WhatsApp-opdatering geplaas het, enkele ure voordat sy Dinsdag 4 Oktober oorlede is.
Die gemeenskap van Worcester is in rou gedompel ná die nuus van haar afsterwe.
Deelman, ook bekend as Rita, was vir langer as drie dekades by Laerskool Worcester-Oos betrokke, en het hier in haar posisie as algemene werker in talle se harte geklim.
Sy was egter ook ’n groot inspirasie vir haar man, kinders, kleinkinders en die breër gemeenskap met talle wat getuig van hoe sy daagliks haar geloof en waardes uitgeleef het.
“My ma was ’n ystervrou. Sy was ’n opregte mens wat die Here met alles binne haar gedien het.
“Sy is deur Hom in staat gestel en het deur Hom geleef om vir ons te wys hoe om te lewe.”
Só vertel Deelman se dogter, pastoor Gertrude Slavers. Slavers verduidelik dat haar ma die afgelope tyd siek was en met ’n rolstoel oor die weg moes kom.
“Ons het die Maandagaand (3 Oktober) almal nog by die huis bymekaargekom en soos altyd net gesing en gebid.
“My ma was stil, alhoewel ek kon sien sy het gebrand om deel te neem.
“Ons het die Here gevra dat Sy wil sal geskied en dat haar lyding sal verminder. Ons weet Hy kan die onmoontlike moontlik maak.
“Later die aand het my ma die WhatsApp-opdatering geplaas, en ure later is sy van ons weggeneem.
“Ons weet dit is die Here se wil en sy is nou sonder lyding,” beaam Slavers.
Deelman was vir jare ’n bekende gesig by die laerskool waar sy gewerk het en sy het sommer vinnig in mense se harte ingeklim. Talle vertel oor die vrou wie se hande vir niks verkeerd gestaan het nie.
Een so iemand, wat met lof getuig oor Deelman se lewe en impak, is die huidige skoolhoof, Renee van der Riet. Sy verduidelik dit was vir haar en haar mede-personeellede ook ’n groot skok om die nuus te verneem.
“Rita was ’n yster. Sy gaan gewis baie gemis word. Sy het reeds in 2019 afgetree, maar haar impak was groot. Sy het nie ’n enkele dag ooit kwaad, onvergenoegd of onwillig by die werk opgedaag nie. Sy het altyd ’n laggie rondom haar gehad. Die kinders wat deur die skool is, het haar om hul pinkie gedraai, want sy moes hulle altyd help – selfs uit die moeilikheid. Hoe sal enige van hulle ooit hul liewe Tannie Rita vergeet?”
Slavers sê haar ma se liefde vir die Here was die groot inspirasie en dryfkrag agter haar eie besluit om ’n pastoor te word.
Hierdie gesin was ook vir jare deel van die Last Days Family Church in Worcester.
Deelman se roudiens is Donderdag 6 Oktober gehou en sy is die afgelope Sondag (9 Oktober) ter ruste gelê.
“Hoe die mense oor my ma gepraat het, was besonders. Jy kon dadelik hoor watter impak sy op haar medemens gehad het. My ma was ons voorbeeld. Ons almal wil meer soos sy wees. Sy het in die Here se lig geloop en vir ons die pad gewys. Mag sy in vrede rus.”
Van der Riet verduidelik ook dat hul medelye haar geliefdes vergesel.
“Ons innige meegevoel aan haar man, Jason, en haar dogters Gertrude, Marquanita en Nadine. Dan ook aan al die kleinkinders. Ons weet sy laat ’n groot leemte in jul familie en ook in die Worcester-Oos-familie, maar ons berus dat sy by die Vader is. Sterkte aan elkeen van julle. Ons was almal baie lief vir Rita.”





