Die Hartwig Lions- en Young Stars-krieketklubs het in die End of Season-beste-uit-drie-reeks teen mekaar meegeding, met Young Stars wat twee van die wedstryde gewen het om as die reekswenner gekroon te word.
In die eerste wedstryd op Nuweland in Roodewal het Young Stars met 156 lopies gewen, terwyl hulle dit op die Lions se tuisveld met 46 lopies vermag het.
Die beste veldwerker was Fabian Boice van die Lions, die beste bouler was Andri-Hago Goliath van Young Stars en die beste kolwer was Noah Goliath van Young Stars.
Die Lions het die naaswenners se trofee en medaljes ontvang, terwyl Young Stars met die wennerstrofee, medaljes en R2 000 prysgeld spog.
Die Hartwig Lions-krieketklub wil sy opregte dank teenoor albei spanne se spelers en ondersteuners uitspreek vir goeie sportmangees, asook aan Young Stars se bestuur dat hulle tot so ’n belowende reeks ingestem het. Die skeidsregters, Graham Farland, Marwaan Kamalie en Gilermo Haas, word ook hartlik bedank.




