Dit is die toneel net buite Bonnievale op die R60 waar ’n wyntrok omgekeer het en waar die publiek die voorraad begin plunder het.

Credit: SYSTEM

Ooggetuies van ’n noodlottige ongeluk net buite Bonnievale waarin ’n wyntrok omgekeer het, is ontstoke omdat die polisie ure na die voorval nog nie die gebied afgesper het nie en omstanders die trok se voorraad geplunder het.

Op Donderdag 3 November het ’n wyntrok op die R60 vermoedelik nie sy draai gekry nie en toe met ’n harde slag omgekeer. Volgens bronne na aan Standard, is twee persone in die voorval oorlede.

Omstreeks 14:30 was polisie nog op die toneel en min besonderhede rondom die omstandighede is bekend.

“Ons kan die voorval bevestig, maar min tot geen inligting is op hierdie stadium nog bekend nie. Ons sal later volledig terugvoer verskaf oor die voorval,” het sersant Sera Julies van die Bonnievale-polisie aan Standard gesê

’n Ooggetuie op die toneel het vertel dat dit chaoties gaan en dit blyk of die polisie niks aan die saak doen nie.

“Dit is verregaande dat die polisie nog nie die toneel afgesper het nie. Dit is ’n misdaadtoneel. Omstanders is besig om die toneel te plunder en niemand doen enigiets daaroor nie. Die ergste is dat twee persone oorlede is,” het die ooggetuie op die toneel aan Standard verduidelik.

’n Soortgelyke voorval het op Woensdag 2 November ook op die R60 tussen Worcester en Robertson plaasgevind. ’n Wyntrok het ook omgekeer en is deur omstanders geplunder. Horde drank en items is vanaf die trok gesteel, maar volgens bronne het die plaaslike polisie dadelik opgetree. Niemand is in hierdie voorval oorlede nie.

Vroeër Donderdagoggend (3 November) het ’n vragmotor ook omgeval op die N1 net buite Touwsrivier. Die polisie en verkeersbeamptes het dadelik die toneel beveilig en die pad is weer oopgestel.

Die voorval net buite Touwsrivier op die N1, ook op Donderdag 3 November.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article