Phillip Retief, die uitvoerende bestuurder van Van Loveren-kelders, het op ConsultM se tiende skou-ete op Vrydag 7 Februarie sy insigte oor die wynbedryf met sakelui in Worcester gedeel.
Nadat die Worcester-skou jare gelede van die baan is, het ConsultM besluit om die tradisionele skou-ete voort te sit.
Retief het op die geleentheid nie net oor die wyn-ekonomie gesels nie, maar ook oor die bestuur van ’n familieonderneming.
Volgens Retief gaan daar moontlik teen Maart ’n tegniese wyntekort wees as gevolg van kleiner oeste die afgelope twee seisoene, met die vraag wat die aanbod kan oorskry.
Die groot wynlande – Frankryk, Spanje en Italië – voer 55% van die wêreld se wyne uit. In teenstelling voer Suid-Afrika slegs 3 tot 4% van die wêreld se wyne uit. Volgens Retief moet die Suid-Afrikaanse mark homself beter bemark. “Ons pryse is die laagste in wêreldterme.”
Vir ’n suksesvolle onderneming raai hy sakelui aan om te weet wat hul mark is. “In die wynbedryf is nege uit die tien topverkopers soetwyne.”
Van Loveren se handelsmerke sluit in Four Cousins, die Almost Zero-wynreeks, Tangled Tree, Zandvliet, Retief Reserve, Rhino Run, Five’s Reserve, Pappilon en Blaauklippen.
Van Loveren, wat in die Robertson-omgewing geleë is, word deur die vier Retief-neefs, wat sedert die 1990s die derde geslag is wat op die grond boer, bestuur.
“Die onderneming was groot genoeg om ons al vier te akkommodeer, maar nog klein genoeg dat ons self moes inspring om trekker te ry en op die grond te werk. In 1999 het ons Four Cousins bekendgestel nadat ons grootmaatwyn gehad het wat nie verkoop het nie,” het hy vertel.
“ ’n Mens kan jouself maklik in die moeilikheid in groei en kontantvloeiprobleme hê,” het hy gewaarsku.
“Ons het besef dat ons die onderneming van ’n landbou-onderneming na ’n handelsmerk-onderneming moes groei. Die eerste dekade het goed verloop. Ná Nelson Mandela se vrylating wou die hele wêreld Suid-Afrika se wyn drink.”
Teen 2010 was daar egter baie mededinging in die soetwynmark.
“Die helfte van ons mark was weg. Dit is ’n belangrike sakebeginsel – wat vandag werk, gaan nie noodwendig môre werk nie. In besigheid moet jy altyd vernuwend dink en ’n tree voor jou mededingers bly,” het hy gesê.
Hy het verwys na wyn wat hulle in plastiekbottels verkoop het, asook 0%-alkohol-wyne. Wyn word belas op die persentasie alkohol wat dit bevat.
Hoe bedryf ’n mens ’n familieonderneming suksesvol?
“As jy ontslae raak van entitlement en besef dat niks eintlik joune is nie, vermy jy die meeste van die probleme wat in familieondernemings opduik. Daar moenie gierigheid wees nie en die klem moet op ‘ons’ wees in plaas van ‘ek’,” sê hy. “My pa en oom het die wysheid gehad om te weet wanneer die tyd reg was om oor te gee aan die volgende geslag en het ons besluite vertrou.”
Sakebeginsels moet altyd seëvier, anders gaan ’n onderneming faal – emosie mag nie deel wees van die somme nie.
“In so ’n familieonderneming, wat oor geslagte strek, moet ’n mens ook die wysheid hê om te besef dat jou kinders nie noodwendig daarby betrokke wil raak nie – iets wat dikwels konflik in familieondernemings veroorsaak.”





