Wynmakers is reeds opgewonde oor vanjaar se Veritas-toekennings, terwyl inskrywings vir dié wynkompetisie, waarna wynmakers en wynliefhebbers landwyd uitsien, pas geopen het.

Deelnemers aan vanjaar se kompetisie word nou aangemoedig om op die aanlyn platform, wat in samewerking met Veritas se finansiële vennoot, CTP/SA Litho, ontwikkel is, in te skryf .

Die aanlyn platform maak die indien van inligting vir dié kompetisie soveel makliker en vinniger.

Die sluitingsdatum is 8 Augustus, terwyl laat inskrywings teen ’n verhoogde fooi nog tot 23 Augustus aanvaar sal word.

Veritas is trots daarop om Suid-Afrika se oudste skou vir gebottelde wyne en brandewyne gereed vir die mark te wees en om vir 34 jaar lank – sedert 1991 – steeds die voorste aanwysing van gehaltewyne en -brandewyne vir verbruikers, restaurante, hotelle en die handel te wees.

Uit ’n bemarkingsperspektief is die waarde hiervan reeds oor dekades heen bewys – nie net plaaslik nie, maar ook op die internasionale mark.

Die verhoogde verkope van die wenners se wyne en brandewyne ná die bekendmaking van die uitslae is ’n goeie aanduiding van die sukses van die Veritas-toekennings vir die bedryf.

Veritas het sedert die kompetisie se ontstaan, met die doel om as kriterium vir gehalte in Suid-Afrika te dien, bewys gelewer van sy gesaghebbende plek in die bedryf.

Wynmakers en brandewynbrouers gebruik die uitslae en gepaardgaande plakkers as ’n doeltreffende bemarkingsmiddel. Die Dubbelgoud- en Goud-plakkers kan ook die punt uit 100 vertoon wat aan die spesifieke produk toegeken is.

Veritas se Vertex-prys vir die algehele topwyn – wat nou as die Duimpie Bayly Vertex-prys bekendstaan – is in 2017 ingestel.

Veritas is ook die enigste plaaslike wynkompetisie wat deur die bedryf vir die bedryf aangebied word.

Die beoordeling geskied van 9 tot 13 September in die Johann Graue-saal by Nederburg in die Paarl.

Volgens die jare lange gebruik word spesialis-beoordelaars vir alle proepanele aangestel om te verseker dat net die beste kundigheid vir die aanwysing van die wenners gebruik word.

Veritas se gebruik van bekwame buitelandse beoordelaars sedert verlede jaar word voortgesit danksy ’n vennootskap met die Dry Ice International-maatskappy, wat onderneem het om die groep buitelandse proewers na Suid-Afrika te bring.

Die prysuitdelingsgeselligheid word vir 12 Oktober beplan.

Die landwye wyn- en brandewynproeë wat vir die publiek en wynhandel aangebied word, is weer op volle dreef, in samewerking met Veritas se finansiële vennoot, Deloitte. Die proeë vind in Kaapstad, Johannesburg en Durban plaas, waar al die Dubbelgoud- en Goud-wenners te proe sal wees.

Wynliefhebbers sal ook weer van die VinoVeritas by CTP-toep gebruik kan maak. Dié toepassing is deur CTP/SA Litho ontwikkel en wynliefhebbers kan na afloop van die kompetisie die Dubbelgoud- en Goud-wyne bestel, boonop met gratis aflewering op hul drumpel, in samewerking met GetWine-wynhandelaars.

Die borge Nashua en Blue Nova is reeds twee jaar lank by Veritas betrokke en lewer weer ’n waardevolle bydrae om Veritas se beeld as voorste wynskou in die land uit te dra.

. Kontak die Veritas-kantoor by 021 863 1599 of stuur e-pos na info@veritas.co.za vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article