Die Laerskool Wynland seo.13-rugbyspan het hierdie jaar ’n ongelooflike seisoen beleef met ’n reeks uitmuntende uitslae wat hul talent en toewyding bevestig. Met altesaam 36 wedstryde agter die rug het die span 34 gewen, slegs een verloor en een gelykop gespeel. Die span het ’n indrukwekkende wenpersentasie van 94% behaal en was onoorwonne in die Wes-Kaap.
Wynland se oorheersing was duidelik in verskeie toernooie. Hulle het die Noord-Suid-rugbytoernooi in Pretoria aangepak en met seges oor spanne soos King Edwards Primary School (47-17) en die Laerskool Tzaneen (Limpopo- kampioen; 17-12) geslaag, maar net-net teen die Laerskool Wonderboom (11-12) verloor.
By die Boland Landbou-rugbydag het Wynland uitstekende vertonings gelewer deur spanne soos Darling Primary (45-0) en Swartland Primêr (15-0) te oorrompel.
Die span het ook indrukwekkend presteer by die Robertson-7’s en Somerset-Wes Laerskool-10’s-toernooie, waar hulle as kampioene gekroon is. Hulle het onder andere die Laerskool Ashton (30-0) en Somerset House (25-20) geklop. Hulle het ook die formidabele Hamiltons RFC in die eindstryd (25-15) gewen.
Wynland het gedurende die seisoen altesaam 1 153 punte aangeteken, terwyl hulle slegs 244 punte afgestaan het, wat hul oorheersing op die veld verder beklemtoon.
In die plaaslike derbywedstryde het die Uiltjies ook die botoon gevoer teen die Laerskool Worcester-Oos (29-19) asook ’n naelbyt-stryd teen Worcester Primêre Skool (28-25).
Twee van Wynland se spelers, Caleb Phillipus en Bjorn Matthews, is vir die o.13A-Boland-Cravenweek-span gekies, wat die uitsonderlike gehalte van hierdie span weerspieël. Met sulke talentvolle spelers en ’n toegewyde afrigtingspan, onder leiding van Ian Olivier en Cameron van der Wygen, het die Laerskool Wynland se o.13A-rugbyspan regdeur die jaar opwinding, inspirasie en vuurwarm hardlooprugby opgelewer.





