Die Breedevallei Onafhanklik (BO) het sy eerste gemeenskapsveiligheidsprojek gister (Woensdag 9 November) bekendgestel.
Dit is die eerste gemeenskapsveiligheidsplan vir ’n wyk in Worcester. Die plan sal vir die volgende ses maande ’n loodsprojek in Wyk 10 wees, wat die buurte van Roodewal, Hexpark en Askamp insluit.
“Die plan is deur middel van samewerking tussen die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), die plaaslike polisiediens, asook die onderburgemeester van die Breedevallei-munisipaliteit saamgestel. Ons het saam oor twee werksessies aan die plan gewerk en geniet die volle ondersteuning van die GPF en polisie asook die munisipaliteit,” sê die BO-raadslid Nik Wullschleger.
Die doel van die gemeenskapsveiligheidsplan is gister met die gemeenskap gedeel en is ook deur die gemeenskap en die wyksraadslid Margaret Swartz aanvaar en aangeneem.
Die kerndoel van die plan is om misdadige aktiwiteite in die betrokke woonbuurte stop te sit en ’n beter gemeenskap te skep. Die plan behels ses projekte, wat deur die loop van die volgende ses maande in die bogenoemde buurte van stapel gestuur sal word.
Die projekte sluit in die opgradering van die Roodewal- en Hexpark-woonstelblokke, vaardigheidsontwikkelingsprogramme, gereelde opknapping van oop veld, die identifisering van oop ruimtes wat in veeldoelige ruimtes omgeskep kan word, en gereelde wetstoepassing- en sigbare polisiëringsinisiatiewe.
“Die veiligheidsplan gaan daaroor om die gemeenskap die geleentheid te gee om positiewe verandering te bring en sodoende ook geweld en misdaad in hul gemeenskappe uit te roei,” verduidelik Wullschleger.
Deur middel van die projekte wat uitgerol sal word, sal lede van die gemeenskap die geleentheid gebied word om self met die opknapping van die woonstelblokke, asook die opknapping van oop veld, te help en daaraan te werk, wat nuwe vaardighede aan hulle sal voorsien.
“Dit sal ’n geleentheid bied om werkskepping onder jongmense te bevorder. Hulle sal betaling ontvang vir die werk wat hulle binne die gemeenskap tydens die opknapping en opruiming doen. Dit baan die weg na ’n meer volhoubare bestaan vir dié wat werkloos is.”
Die BO het die volgende inskrywing op sy amptelike Facebook-blad oor die plan geplaas: “Ons is trots om die eerste gemeenskapsveiligheidsplan vir ’n wyk in Worcester bekend te stel – (die) wyk 10-gemeenskapsveiligheidsplan vir die Roodewal-woonstelle, Askamp en Hexpark.
“Die veiligheidsplan beskryf sewe teen-misdaad-programme, insluitend projekte en optredes om bendebedrywighede en die onwettige verkoop van dwelms en alkohol hok te slaan. Dit fokus ook op gesins- en geslagsgeweld, onwettige strukture en om spazawinkels te keer, asook die toepassing van munisipale geraas-en-oorlas-verordeninge. Die loodsprojek sal dus vir die volgende ses maande, tot einde Junie 2023, op die proef gestel word.
“Ons versoek almal se betrokkenheid want dit is net saam dat ons ’n veiliger, misdaadvrye gemeenskap kan bou,” lui ’n gedeelte van die inskrywing.




