Denzil van Rooi en sy vrou, Charmaine. Foto: Enrico Claassen


Op 16-jarige ouderdom was hy reeds in die wurggreep van alkohol- en dwelmmisbruik, soos Mandrax. Om sy dwelmgewoontes te finansier, het hy later by ’n bende aangesluit en dwelms verkoop om ’n bestaan te voer.

Vandag – 10 jaar nadat hy sy bende-bedrywighede vaarwel toegeroep het – het die 46-jarige Denzil van Rooi van Roodewal in Worcester ’n rolmodel vir baie geword.

Hy is die pa van vyf kinders en is die afgelope ses jaar reeds nou betrokke by Kibbutz El Shammah – ’n gemeenskapsontwikkelingsorganisasie geleë in die hartjie van die bendegeteisterde Roodewal waar armoede hoogty vier.

Van Rooi sê hy het grootgeword in ’n huis waar daar ’n tekort aan niks was nie. Volgens hom het hy – toe hy nog op skool was – naweke dwelms en alkohol gebruik.

In 1995 het hy gematrikuleer aan Worcester Senior Sekondêre Skool en in 1996 begin werk by ’n maatskappy wat alkohol vervaardig.

“Ek het goeie geld verdien. Jy weet, as jy jonk is en jy verdien lekker geld, het jy baie vriende om jou.”

Hy sê hy het hom letterlik oorgegee aan dwelms en alkohol omdat hy toe sy eie geld verdien het.

“By my werkplek was ek omring met alkohol en om toegang te kry tot alkohol was maklik, want ons het krediet gekry waarmee ons vir ons kon alkohol koop. En ek het baie wyn gekoop. Ek het toe elke dag begin drink. Later was ek ’n volslae alkoholis.”

Volgens Van Rooi het die dwelms en alkohol sy lewe so oorgeneem dat hy in 2003 besluit het om sy werk te bedank omdat dié euwels al was waaraan hy kon dink.

Hy sê die meeste van die R124 000 wat sy werk aan hom uitbetaal het, het hy op dwelms en alkohol geblaas. “Die hele Worcester was toe my vriende.”

Van Rooi sê in sy laat dertigs – toe sy geld begin opdroog – het hy by ’n bende aangesluit en dwelms begin verkoop om ’n bestaan te voer. “Ek het toe geen vriende gehad nie en was toe soos hulle sê op die skarrel.”

Hy sê alhoewel die dwelmverkope goed was, was sy lewe altyd in gevaar omdat bendes die heeltyd sy bloed gesoek het. Volgens Van Rooi het hy dwelms verkoop aan kinders so jonk as 11 jaar oud.

Hy sê toe hy dwelms verkoop het, het hy dit nog steeds gebruik omdat hy toe vrye toegang tot dit gehad het. Volgens hom het hy baie dwelms in Roodewal verkoop.

“Jy sal verbaas wees hoeveel dwelms dié mense rook en hoe ryk die dwelmbase raak.”

Hy sê hy self het sakke vol geld gemaak met sy dwelmverkope. Hy het vir sewe jaar dwelms verkoop.

Van Rooi voeg by hy het in die proses baie mense seergemaak.

Volgens hom is tuberkulose in ’n stadium by hom gediagnoseer. Hy sê as gevolg van die tuberkulose kon hy toe nie langer dwelms verkoop nie.

Volgens Van Rooi het sy oudste suster toe ’n ernstige gesprek met hom gevoer waarna sy hom ingeboek het by die Salvation Army waar hy deelgeneem het aan dwelmrehabilitasieprogramme.

“Wat vir my moeilik was, was om terug te keer huis toe. Ek het ’n groot taak op my skouers gehad, want ek moes kom regmaak met duisende mense – mense vir wie ek kwaad aangedoen het – my familie, my meisie, almal aan wie ek dwelms verkoop het.”

Volgens Van Rooi is sy vrou, Charmaine (32), met wie hy in 2015 in die huwelik getree het, reeds jare betrokke by die Kibbutz. Hy sê in ’n stadium het hy ’n kerkdiens by die Kibbutz bygewoon.

Van Rooi sê toe hy sy voete die eerste keer op die terrein van die Kibbutz sit, toe weet hy dis waar hy moet wees.

In Julie vanjaar word die egpaar weer ouers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article