Bo konsentreer Mario Marinus (flank) hard op die rugbyveld.Foto: Tamsyn Jantjies


Die Worcester Villagers-rugbyklub het sy aanslag op vanjaar se Groot Uitdaagtitel Saterdag (15 April) op ’n positiewe noot afgeskop toe hy die eerste wedstryd teen Ashton United 18-17 gewen het.

Villa het sommer van meet af sy voorneme duidelik uitgespel toe die span met verskeie aanslae vorendag gekom het.

Een so ’n aanslag het op ’n strafskop uitgeloop, wat deur Jarian de Klerk (heelagter) in punte omgeskep is vir ’n 3-0-voorsprong vir Villa.

Ashton United het sy gewigsvoordeel voorlangs ingespan en verwoed verdedig, maar Villa het ’n skitterende en hardnekkige wedstryd gespeel.

Villa het sy voorsprong gerek nadat Greyling Geldenhuys (die kaptein en haker) ná volgehoue druk oorgegaan het vir ’n drie, wat De Klerk ongelukkig nie kon verdoel nie.

Ashton, of Unies, soos hy algemeen bekend staan, het met mening aangeval en sy kaptein en haker, Denovan Hendricks, het ’n pragdrie langs die pale gedruk. Mickyle Snyders (losskakel) het die drie maklik verdoel en die agterstand na 7-8 verklein.

Villa het egter weer sy voorsprong gerek toe sy woelige flank, Gurshwon Williams, ’n drie gedruk het, wat De Klerk verdoel het om die telling op 15-7 in Villa se guns te staan te bring.

Kort voor rustyd het Algervin Williams (buitesenter) ’n onvervyfde drie vir Ashton gedruk, wat die telling teen rustyd op 15-12 – steeds in Villa se guns – te staan gebring het.

Ná rustyd en met talle veranderings aan al twee spanne het Villa weer met mening begin aanval om sy stempel op die wedstryd af te druk.

Ashton het egter nooit opgegee nie, en Villa is met ’n strafskop vir ongeoorloofde spel beloon, wat Adeeb Isaacs (binnesenter) oorgeklits het om Villa se voorsprong na 18-12 te rek.

Ashton het egter met ’n totale aanslag begin, wat uiteindelik op ’n drie deur Anrich Nelson (heelagter) in die linkerkantse hoekie uitgeloop het, wat die telling op 18-17 te staan gebring het.

Met die skare wat behoorlik hul asems opgehou het, het Ashton se eie doelskop-poging egter net-net links verby getrek om aan Villa ’n naelbyt- dog welverdiende sege te verseker.

Vir Villa het sy agttal – ten spyte van ’n gewigsagterstand – hul alles gegee en die losskakel, Shane Pietersen, het sake agterlangs mooi onder beheer gehou.

Vir Ashton was sy slotte, Marlow van Eck en Jonathan Kompela, staatmakers in die lynstane terwyl Hendricks (kaptein) ook sy kant deeglik gebring het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article