Die Worcesteriet, skrywer, digter en akademikus Diana Ferrus (69) is die afgelope naweek by ’n spesiale byeenkoms in Worcester vir haar bydrae tot die Afrikaanse taal vereer.
Ferrus, wat haar grootwordjare in Worcester deurgebring het en later bekendheid verwerf het vanweë haar vernuf om met woorde te toor en belangrike kwessies deur haar woordkuns aan te spreek, is Vrydag 9 Desember vereer deur Die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). Talle bekende rolspelers van hierdie organisasie en die veteraan-aktrise en ddie veteraan aktrise Sandra Prinsloo het die toekenning aan Ferrus in die Worcester-stadsaal oorhandig.
Ferrus het ’n besondere jaar agter die rug nadat sy ook vroeër vanjaar ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang het.
“Prof. Steward van Eyk, hoof van die departement Afrikaans by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), het saam met twee lede van die SBA ’n geheimsinnige vergadering met my gereël en my toe ingelig dat hulle my wil vereer. Hierdie verering was beide ’n groot skok en terselfdertyd ’n heerlike verrassing,” vertel sy aan Standard.
Die verering is deur die SBA in samewerking met die Breedevallei-munisipaliteit en die Universiteit van Wes-Kaapland se departement Afrikaans en Neerlandistiek aangebied. Die spesiale geleentheid is gevul met musiek, digkuns, sang en toesprake wat spesiaal aan Ferrus opgedra is.
Die SBA se uitgangspunt is om geletterde, selfonderhoudende en omgewingsbewuste gemeenskappe deur die gebruik van Afrikaans te help vestig en te bemagtig.
“Ek wil graag eer gee aan al hierdie wonderlike organisasies vir dié eer. Sandra Prinsloo is ’n jare lange heldin van my en die baanbrekerrolle wat sy vertolk het in die apartheidsera het haar beslis ’n ikoon in my oë gemaak. Dit is wonderlik om te weet dat sy gestem het om hierdie prys aan my toe te ken – dit beteken baie vir my,” verduidelik sy aan Standard.
Ferrus, wat al baie skryfwerk gepubliseer het en baie jong skrywers onder haar vlerk geneem het, is bekend vir haar strewe na vryheid en was een van ons land se belangrikste stemme in en ook ná die apartheidsera. Sy is veral dankbaar vir organisasies soos die SBA wat haar taal bevorder.
“Die groot werk wat die SBA doen om Afrikaans te bevorder op klein dorpies en in die platteland is noemens-waardig. Maar belangriker nog is dat dit nie net oor Afrikaans praat gaan nie, maar om daadwerklik werktuie in mense se hande te sit en hulle kans te gee om hul eie werk te skep en om hul vaardighede te versterk en op te skerp.
“Mense voel trots om die taal te praat en het ook vertroue daarin dat die SBA hulle sal bystaan om hulself tot groter hoogtes te voer. Die wete dat daar ’n organisasie is op wie ’n mens kan staatmaak, beteken baie,” het Ferrus bygevoeg.





