Beurtkrag is hier om te bly, en na alle waarskynlikheid gaan dinge net nog donkerder raak met die winter wat aankruip.
En hierdie plaag dwing almal om talle struikelblokke te oorkom.
Die Standard het na die Worcester-polisie uitgereik om te hoor hoe dié polisiekantoor vir beurtkrag voorsiening maak en wat hul uitdagings tydens die donker tye insluit.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het die Worcester-polisie twee kantore – een in die middedorp, en een in Zwelethemba. Albei is toegerus met ’n kragopwekker wat beurtkrag-uitdagings verminder.
Jacobs het per e-pos aan die koerant verduidelik dat albei kantore ’n kragopwekker besit, wat tydens elke beurtkragsessie aangeskakel word om die kantoor en sy stelsels aan die gang te hou.
Dus is daar nie sommer ’n dag waar dossiere nie op die rekenaarstelsel opgeroep kan word of die telefone of internet nie werk nie.
Volgens kol. Willis Smith, stasiebevelvoerder van die Worcester-polisie, het dié twee kantore ’n kontrak by ’n maatskappy wat die kragopwekkers verskaf, dit diens en in stand hou, asook diesel verskaf. Dit word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens betaal.
Volgens Smith is dit dié maatskappy se verantwoordelikheid om te verseker dat die kragopwekkers genoeg diesel het om die stasie tydens ’n kragonderbreking of beurtkrag van krag te voorsien.
Jacobs het verduidelik komplikasies sluip nie sommer by hierdie proses in nie, maar dit het wel onlangs gebeur dat die kragopwekker van die middedorp se polisiekantoor tydens ’n nagskof “leeggeloop” het.
Volgens Willis het die maatskappy wat die kragopwekker besit, nie betyds die tenk volgemaak nie en die kantoor eers die volgende oggend van genoeg brandstof voorsien.
Hierdie gebeurtenis was egter nie die fout of die verantwoordelikheid van die polisiekantoor nie.
“Wanneer beurtkrag geld, skop die kragopwekker outomaties in, en dan is die rekenaars vir slegs drie minute nie aanlyn nie en die telefone vir net vyf minute nie bruikbaar nie,” het Jacobs gesê.
Volgens haar was al twee kantore reeds van kragopwekkers voorsien toe die land se eerste beurtkrag in die vroeë 2000’s die kop uitgesteek het.

