’n Skoolberader en een van haar leerders is ’n bewys dat jou omstandighede nie jou toekoms bepaal nie en dat harde werk jou tot op enige plek in die lewe kan bring.
Felicity Fransman (57), ’n berader by Worcester Sekondêre Skool (WSS), is onlangs vereer by die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit se toekenningsgeleentheid vir uitnemende vroue.
Dié Worcesteriet is al bykans twee dekades by skole en jeugontwikkeling betrokke en bestuur boonop nog haar eie nie-winsgewende organisasie ook. Haar passie lê by die jeug en om ander te help, maar sy het dit beslis nie maklik gehad nie.
“My passie brand vuurwarm vir ons jeug. Ek is gebore in Roodewal en weet watter uitdagings hier in die gemeenskap is. Ek self is deur dieselfde uitdagings. Ek het skool gelos en moes deur die lewe se gesukkel gaan om myself te vind. Ek kon uiteindelik op die ouderdom van 45 my matriek voltooi – dit terwyl ek vier kinders en ’n kleinkind gehad het.”
Fransman het oor die jare verskeie soorte gemeenskapswerk ook gedoen en was vir lank by Esselenpark Hoërskool betrokke, maar het sowat vier jaar gelede betrokke geraak by ’n kursus wat fokus op berading. Sy moes ongelukkig dié geleentheid eers opsy skuif.
“My ma is gediagnoseer met kanker en ek wou haar bystaan. Toe, in 2020 het my ma Covid-19 opgedoen en sy is daaraan oorlede. Dieselfde oggend toe my ma oorlede is was ek ook in die hospitaal met Covid-19 opgeneem en was vir twee weke aan suurstof gekoppel,” vertel sy verder.
Fransman sê dat dit ’n moeilike tyd was, maar dat die Here haar deur dit gedra het. In Augustus verlede jaar het Fransman toe die geleentheid gekry om by WSS betrokke te raak. Sy sê dat hierdie geleentheid met rede oor haar pad gekom het.
“Hier kan ek ’n verskil maak. Hier kan ek vir kinders meer oor my lewe ook vertel en hulle op ’n manier probeer inspireer om beter vir hulself te soek. Hier het ek dan ook ’n peer educators-program gestig waar ek 24 leerders oplei om hul vriende en ander leerders in die skool te bemagtig met kennis. Hulle inspireer mekaar dan.”
Dit is in hierdie program waar Fransman vir Jumark Lekhoro (17) ontmoet het. Lekhoro, ’n graad 11-leerder by WSS, is ’n jongman wat hard werk om sy droom na te jaag. Met ’n gemiddeld van 92%, is sy droom om ’n hartspesialis te word.
Lekhoro ry elke dag van sy huis in Zwelethemba af tot by die skool en weer terug. Terug by die huis moet hy soms na sy sibbe omsien, huis skoonmaak, kosmaak en dan nog tyd maak vir leer. Hierdie uitdagings stuit hom nie.
“Dit kan my breek. Dit kan vir my ’n rede wees om te sê ek wil nie meer nie en ek kan dan verval in slegte gewoontes of dan net opgee, maar ek gaan nie. Dis nie wie ek is nie. Dit is ook danksy mense soos juffrou Fransman wat ek die moed het om aan te gaan en my droom na te streef.”
Lekhoro sê dat hy vir Fransman genomineer het vir die toekenning by die KWDM se verering vir vroue omdat sy hom inspireer.
“Sy sê dat ek dit kan doen. Sy glo in my en inspireer my. Soms as dinge te veel raak dan sal sy selfs dat ek by haar huis gaan oorslaap en daar is Wi-Fi wat beteken ek kan meer leer en beter vaar in my opdragte en studies.”
Hy vertel verder hoe hy eendag op ’n uitreik saam met haar was en ‘n klompie bedlêende moeders gesien het. Hulle was vreeslik siek en hy het besef dat hulle wel gehelp kan word, maar dat die mediese kostes bloot net te duur is.
“Ek wil medies studeer en terugkom na my gemeenskap toe. Ek wil hier ’n verskil kom maak. My ouers en ek woon in ’n hok. As ek as die oudste kind nie iets met my lewe gaan doen nie, dan gaan my ouers vir ewig daar moet bly,” vertel hy.
Lekhoro het die geleentheid verlede week saam met Fransman bygewoon en sê dat Fransman heel verbaas was oor haar wen.
“Sy was geskok. Haar foon was in haar hand met die aankondiging. Toe laat val sy haar foon en saam met dit val die trane. Ons het mekaar eers ’n drukkie gegee en toe gaan ek maar saam het haar op na die verhoog.”
Fransman sê sy het so gebewe omdat sy dit nie verwag het nie.
“Mens verwag nie so iets nie. Ek is dankbaar vir dit. Baie dankbaar dat hy my genomineer het. Hy gaan nog soveel sukses in sy lewe bereik – ek weet dit. Ek is benoem as ’n fenomenale vrou, maar die eer kom aan my Vader eerstens toe, dan my fenomenale man en my fenomenale familie,” sê sy.


