Worcester Primêre Skool (WPS) se juniorkoor is aangewys as die land se vooraanstaande juniorkoor by die ATKV-applous-skoolkoorkompetisie wat in Kaapstad gehou is.
Volgens Hanlie Bruyns, WPS se koorafrigter, asook Xhosa-onderwyser by dié skool, het sy ’n passie vir koorsing, asook afrigting nadat sy in haar eie skoolloopbaan lid was van ’n paar kore, onder meer die Tygerberg-kinderkoor, en tydens haar studiejare Stellenbosch-universiteit se koor.
“Ek is baie lief vir kore,” het sy telefonies aan Standard gesê.
Buiten dat WPS met die eerste plek weggestap het, is dit ook die tweede jaar in ’n ry dat hulle die titel wen.
Volgens Bruyns bestaan die juniorkore uit gr. 1 tot gr. 3-leerders.
Sy verduidelik dat die nootvaste kleuters van die begin van die jaar geoefen het om deel te neem aan dié bekende koorkompetisie, wat nie baie lank was nie, aangesien oudisies ook in daardie tyd plaasgevind het.
Volgens Bruyns is daar twee kategorieë waarin elke koor moet deelneem, naamlik die voorgeskrewe lied wat deur ATKV-applous verskaf word, en twee werke van die afrigter se keuse.
Vanjaar se voorgeskrewe werk was “Skaduwee monsterdans” en die twee eie- keuse-werke sluit in ’n gedig uit Antjie Krog se kinderdigbundel genaamd Fynbos feetjies wat die koor getoonset het, asook ’n Xhosa-kinderliedjie wat vertaal kan word as “Maak jou handjie oop vir Jesus”.
Bruyns sê die kleuters was baie “opgewonde en trots” oor die nuus dat hulle weer gewen het. “Hulle beskou alles as ’n kompetisie. Ons gaan binnekort in Montagu sing, maar nie in ’n kompetisie nie, waar hulle dan ook gaan vra of hulle gewen het,” skerts sy.





