Suna Verhoef en Cleo Cecil tydens verlede jaar se Polar Bear Splash. Foto:


Pionierskool se tweede Polar Bear Splash beloof om weer ’n groot en prettige fees te wees.

Suna Verhoef, die koördineerder van die Polar Bear Splash, het met hierdie unieke idee vir ’n geldinsameling vorendag gekom.

“Daar is soveel van dieselfde soort geldinsamelings in die dorp en hierdie een is ’n bietjie anders en baie meer pret,” verduidelik sy.

Hoërskoolspanne, individue en aflosspanne van alle ouderdomme kan vir die Polar Bear Splash inskryf.

Geld word dan ingesamel deur middel van ’n Polar Bear-plakker wat leerders by die onderskeie skole in die dorp kan koop en ook deur middel van borge vir lengtes wat geswem moet word.

“Wanneer leerders die plakkers koop, kan hul skool dan besluit om terselfdertyd byvoorbeeld ’n civvies-dag te hou.”

Pionierskool moedig al die skole se verskillende sportspanne aan om mekaar uit te daag vir ’n yskoue swemuitdaging.

“Ons almal gaan vir ’n goeie doel koud kry,” meen Verhoef.

Die geleentheid vind hierdie jaar weer by die Seminarie-koshuis in Tulbaghstraat op Vrydag 19 en Saterdag 20 Julie plaas. Al die spanne sal die Vrydag swem en Saterdag is uitgesit vir individuele swemmers.

“Dis altyd groot pret. Die ouers swem ook sommer saam. Verlede jaar was regtig iets besonders en ons kan nie wag om almal hierdie jaar te verwelkom nie.”

Mandeladag sal ook by die geleentheid in ag geneem word deurdat die aantal lengtes wat geswem word, die afstand van Robbeneiland na Bloubergstrand is – dit wil sê 7,5 km, oftewel 300 lengtes.

’n Verskeidenheid kos- en lekkerny- stalletjies sal ook by die geleentheid beskikbaar wees.

“Ons leerders sal die kosstalletjies by Vrydag 19 Julie se geleentheid as deel van Entrepreneursdag behartig.

“Diegene wat nié aan die swemuitdaging kan deelneem nie, is altyd welkom om as toeskouer te kom kyk of om ’n finansiële skenking te gee,” sê die skool se bemarker, Cathy Hugo.

. Kontak die Pionierskool by 023 342 2313 of stuur e-pos na marketing@pioneerschool.org.za vir meer inligting oor hoe om in te skryf, geld te skenk of betrokke te raak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article